Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Carel Stander
- lesers

Op 25 en 26 Julie het DF se tienertoneelstuk, geskryf deur Margo Kotze en onder regie van haar en meneer Ian van der Westhuizen (genomineer vir beste regie by die ATKV-tienertoneelkompetisie), gehore in die gesellige Collective Arts-teater in Boston vermaak - en weer op 16 Augustus in die ATKV-tienertoneelkompetisie by die Kunstekaapteater geskitter.

Hierdie skreeusnaakse komedie het Kersfees vroeg na gehore gebring: dit is Kersvakansie en Ma wil weg. Sy en Pa bly nie meer saam nie en sy verkies ’n tropiese vakansie bó een met Kersbome en kalkoen. Sussa het ’n plan om die gesin bymekaar te hou, maar sy moet staat maak op die diskresie van haar boetie, Oupa en Ouma, en die buurt… Misverstande, lag-jouself-stukkend-grappe en groot pret volg!

Drie wit skerms om die gange van die huis te skep, en ’n sneeuwit Kersboom, was al nodige dekor - die kleurvolle, deurdagte beligting en oorspronklike blocking het hierdie verhoog eenvoudig, maar elegant, die gees van die seisoen laat skep.

Foto: Nikita le Roux

Die komedie bevat ’n gesonde balans tussen woordspel en dramatiese ironie, en skreeusnaakse slapstick. Die akteurs en aktrises (VJ Bassett, Mia Groenewald, Kornè Drijfhout, Carli Carstens, Janelle Jansen, Heinrich Henning, Juan Visagie, Daniël Wiese, Timothy Lodewyk, Ingrid Klopper, Emke van Schalkwyk, Jessica Schoeman en Elzaan Louw) het almal goeie interaksie op die verhoog gehad en heerlik mekaar se energie aangevul. Daardie energie was aansteeklik. Hulle het my deurlopend laat glimlag.

Foto: Nikita le Roux

VJ Bassett is by die ATKV-Tienertoneelkompetisie as die beste akteur in ’n ondersteunende rol aangewys en Ingrid Klopper as beste aktrise in ’n ondersteunende rol. Heinrich Henning is vir beste ondersteunende akteur genomineer.

Operasie Kersfees is dinamies, lewendig - en nét wat ’n mens nodig het. Hierdie produksie het die gehoor daadwerklik met ’n feestelikheid gevul en mý definitief hierdie kwartaal ’n nodige hupstootjie gegee.