Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Bianca Stander
- lesers

McKenzie Pedro is DF se eie sportster! Fietsry is deel van wie sy is. Nadat sy onoorwonne by die South African National Track Championship weggeloop het, hou sy net aan inspireer.

McKenzie ry al fiets vandat sy tien jaar oud is. Haar passie het egter tydens die grendeltydperk vlamgevat toe sy ’n oefenprogram vir fietsry begin volg het. Sy kompeteer al vir ’n jaar en half en het binne ’n aansienlike kort tydperk die titel as kampioen verower.

McKenzie het in Februarie 2022 aan die Pad Kampioenskappe deelgeneem en het haar voorbereiding daarvoor gebruik as ’n bousteen vir die Track-kampioenskappe. Haar hande was egter verlede kwartaal vol met die toetsreeks. Tydens die toetsreeks was akademie haar eerste prioriteit en sy het tussen-in gaan fietsry net om fiks te bly. Uiteindelik het sy slegs een week gehad om voluit voor die kampioenskappe te oefen.

Die kampioenskappe het oor ’n tydperk van vier aaneelopende dae (28 tot 31 Maart) gestrek. McKenzie het op sommige dae aan meer as een wedren deelgeneem. Sy het in totaal aan agt wedrenne deelgeneem.

McKenzie vertel dat die grootste uitdaging vir haar was dat die wedrenne so naby aan mekaar plaasgevind het en dat elke wedren se druk en kompetisie ewe intens en kompeterend was. Sy sê: “Elke kompetisie is baie belangrik en jy moet elke dag alles gee, aangesien almal rondom jou ook verdien om daar te wees.”

Uit al agt wedrenne was die match sprint haar gunsteling. Dit het drie rondtes om die baan behels en was ’n uiterse taktiese item. Sy het silwer in dié item verower!

McKenzie vertel dat emosionele voorbereiding nét so belangrik soos fisiese voorbereiding is.

Na die aanloop van groot byeenkomste, spreek sy ’n sportsielkundige wat haar help om spanning en angs reg te hanteer. Na die tyd reflekteer sy ook oor hoe die wedrenne verloop het en waarin sy kan verbeter, asook wat haar doelwitte vir die volgende wedren is. McKenzie bou op haar ervaring en haar foute, wat haar uitsonderlik tydens haar wedrenne laat presteer.

Na alles is dít wat jou deurdra om ’n kampioen te word: om fisies en emosioneel reg te wees en alles in die gegewe oomblik te kan gee.

“Fietsry het vir my deursettingsvermoë en tydsbestuur geleer - om deur te druk wanneer dinge moeilik raak en die belangrikheid van tydsbestuur om ’n gesonde balans te handhaaf,” sê McKenzie.

McKenzie vertel dat dit uitdagend is om ’n gesonde balans tussen skool en fietsry te handhaaf en steeds sosiaal te verkeer. Sy vertel dat sy aan die begin van elke kwartaal besluit wat haar planne en doelwitte vir daardie kwartaal is. Daarmee in gedagte prioritiseer sy tussen akademie en fietsry. As sy die meeste van haar tyd aan akademie bestee, maak sy ’n punt daarvan om nou en dan vir ’n bietjie ontspanning te gaan ry en dan natuurlik tyd te maak om met haar vriende en familie deur te bring.

“Dit is belangrik om te kan onderskei wanneer jy moet werk en fokus op jou akademie en wanneer jy ’n blaaskans moet neem.”

Fietsry het verskeie fasette wat dit gewild maak, maar vir McKenzie is dit die feit dat dit iets is wat sy saam met haar familie en vriende kan doen om kwaliteit-tyd saam deur te bring. Op die ou end is die kompetisie en die geleentheid om haarself te druk ’n by-beloning vertel sy.

McKenzie se raad aan fietsryers wat graag kompenterend wil deelneem, is om dit altyd net te geniet. Sy vertel dat fietsry vir haar te alle tye opwindend en vreugdevol moet wees. Om dit te verseker, neem sy aan verskillende dissiplines van fietsry deel en ervaar en geniet dus al fietsry se verskillende fassette.

McKenzie Pedro is ’n ware inspirasie. Haar dryfkrag, energie en gesindheid is aansteeklik.

Sy maak DF trots!