Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Shianne Brand
- lesers

Sondag, 26 Junie 2022

Twaalf van ons is op pad Rome toe! Die eerste vlug was lank en die tweede een voel soos ’n ewigheid. Vir nou moet ek eers ’n bietjie slaap inkry voor die lang dag môre.

Maandag, 27 Junie 2022

Rome is indrukwekkend.

Die Kolosseum voel amper so groot soos die Kaapstad-stadion en die Trevi-fonteine het die mooiste wit-blougroen water. Op pad na die Vatikaanstad het Kimi, Chris en Madison van Melkbos Privaatskool op die verkeerde trein geklim…

Gelukkig kon ons die groot katedraal sien.

Dinsdag, 28 Junie 2022

Totsiens Rome!

Assisi is die mooiste dorpie. Ons het deur die straatjies gestap en was binne-in ’n dubbelverdieping-katedraal. (Stiaan het nie die katedraal gesien nie… hy het wel sy 10 000 treë vir die dag ingekry!)

Woensdag, 29 Junie 2022

Ons het in Florence die heerlikste broodjies ooit geëet!

Donderdag, 30 Junie 2022

Groot opgewondenheid, terwyl ons Venesië binnevaar.

Uurlange staptog om die restaurant vir aandete wat “net om die draai” van die hotel is, te vind.

Die kanale van Venesië | Foto: Shianne Brand

Vrydag, 1 Julie 2022

Ons het verdwaal. En die Rialto-brug gesien… verdwaal… en op ’n gondola gery. Het ’n boks kersies van ’n bootjie af gekoop en in ’n straatjie gesit en eet. Om die dag af te sluit, het party die €44-boete aangedurf om te swem.

Saterdag, 2 Julie 2022

Oostenryk is net so groen soos Heidi dit laat lyk.

Sondag, 3 Julie 2022

Soutmyne met laser-vertonings en Hitler se Eagle’s Nest… Nogal koud so diep onder die grond en hoog bo seevlak.

’n Vinnige draffie na die rivier vir ’n middernagswempie was effens ysig.

Maandag, 4 Julie 2022

Lang rit op die bus saam met my nuwe onvergeetbare vriende.

Dinsdag, 5 Julie 2022

Hulle is baie vriendelik in Wenen. Lewendige stad. Weense boereworsrolle is lekkerder as dié in Suid-Afrika (en ek’s nie jammer nie). Sommige van ons het te veel geld in die Prater-pretpark spandeer.

Woensdag, 6 Julie 2022

Oor die grens tot in Tjeggië.

Donderdag, 7 Julie 2022

Praag voel so ’n bietjie dood teenoor Wenen. Pragtig, maar ons kan die impak van die Wêreldoorloë duidelik sien. Glow-in-the-dark putt-putt en ’n 1000-kroon boete is seker nie eg-Tjeggies nie, maar dis wat ek nooit sal vergeet nie.

Vrydag, 8 Julie 2022

Berlynse muur, Brandenburg-hek, Check-point Charlie en die Humboldt Universiteit.

Saterdag, 9 Julie 2022

’n Onvergeetlike toer met onvergeetlike ervarings en spesiale mense.

Baie dankie, juffrou Carstens, Henry, Tommie, Siegfried, Gustav, Stiaan, Alexander, Jeske, Shianne, Nena, Marnel en Leana.