Die skemer trek my geliefde Sol die aarde in – ’n verbysterende beeld. Die stryd: goed teen sleg, lig teen donker, duur etlike minute. Lig klou desperaat aan elke greintjie lewe vas, maar die bose heet Oorwinnaar en die Franse landskap word met gitswart ink toegeverf. My goudgeelgevlekte lapdoek is gestempel met ’n dik olieveflandskap - gebalanseer op ’n esel wat lendelam gedruk is deur tyd.
***
My bene tree sonder my hart se toestemming oor die deurkosyn van die somber kamer. Twee stoele, twee deure, twee kussings. Maar vir ’n enkeling. Eensaam. Verlaat deur die koorsagtige son wat vanaand agter die horison slaap.
My liggaam is uitgeteer, moeg geswoeg na ’n stukkie brood, maar my gedagtes wemel en verhoed die moontlikheid van sielsrus. My slotwerk verskyn speels teen die donker wat voosgebrande ooglede bied. Die haastige kwashale eggo my interne oorlog: die donker neem sluipend oor. Die nag neem vlerke en vlieg soos ’n swerm kraaie oor die goudgeel koringgerwe (wat die son aanbid). Die goudbron is uitgeput.
My onuitgeleefde jare is geteken op die gekreukelde gelaat in die spieël - ’n verknotte, gepynigde gesig so leeg en lusteloos soos die nag.
Ek verstik aan die woorde wat ek nie uit my keel kon ruk nie; ek verstik aan die verlange na my Sol. My senuwees word gestreel.
***
Sy ysblokkie-hande reik uit na die dik skarlaken poel wat op die buik, om die metaalsilinder vorm. Die leë dop tref teëls met ’n klanggeluid wat die dissonante aankoms van nog ’n ster in die hemelruim verkondig.
Die dag breek weer, maar alles is effens grouer. Die wêreld leef voort, maar ’n bietjie leër. Hierdie dor wese het nooit die helderkleurige kunstenaarsoog verdien nie. “Jy het as ’n miskende heilige vergeefs geveg teen die ellende...”