Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Illustrasie deur Alexa Wium
- lesers

Na drie jaar was dit uiteindelik weer sulke tyd - ’n tyd van spanwerk en gees wys met DF-gesigverf, plakkate, lintverkope en interessante kleredrag. Dit is wanneer ons trots ons blou bloed wys.

Die Herout dokumenteer ’n oorsig van Geesweek gedurende 2022 se Interskole teen Die Hoërskool Bellville, wat hierdie jaar die gasheerskool was.

Maandag, 22 Augustus

Interskoleweek het afgeskop met ’n geleentheid vir Dee-Effers om funky sokkies skool toe te dra en heerlik gedurende pouse te sokkie.

Die eerste groep leerders wat ons by Die Hoërskool Bellville verteenwoordig het, was ons gholf- en bergfietsspannne, asook musiek- en verbruikerstudieleerders. DF se koor het pragtig by die musiekaand gesing en ons kan met trots sê dat DF se bergfietsryers vir Bellville weggery het!

Hierdie jaar is daar ook vir die eerste keer ’n bakkompetisie gehou, waar sekere van ons graad-11-verbruikerstudieleerders DF verteenwoordig het.

Die hoogtepunt van die skooldag was die netbalwedstryd tussen die onnies en die matrieks. Niemand het verwag dat die onderwysers ’n paar geheime toertjies sou uithaal nie. Meneer Jordaan was ook definitief die speler van die dag!

Dinsdag, 23 Augustus

DF se skaakspan het hul strategieë vir Bellville gewys.

Daardie aand het DF se Engels- en Afrikaansdebatspanne vir Bellville bang gepraat. Daar was ook ’n pretdebat wat lekker vermaak het.

Pouse se onnies-teen-matrieks-pretdebat was groot pret. Die onderwerp: Lang hare maak jou slimmer. Ongelukkig kon Tala Wiese, Reagan Johnson en Zander Taljaard nie teen juffrou Meyer, meneer De Wet en meneer Van der Westhuizen se vlymskerp argumente wen nie.

Interskolebalkie deur Zander Taljaard ontwerp

Woensdag, 24 Augustus

DF se onderwysers het teen Bellville se onderwysers gholf gespeel. Later het die landloopatlete en FIFA-e-speletjiespan ons ook trots verteenwoordig. Die aand is met ’n praise and worship-sessie afgesluit.

By DF het onderwysers pouse teen die matrieks hokkie gespeel. Meneer Conradie het definitief die meeste ondersteuners gehad. Al die DF sportspanne, behalwe die A-spanne, het ’n kans gehad om op die verhoog by die mini brag, met groot ondersteuning van die skool, bekendgestel te word. Daniël Vorster het die leerders met sy asemrowende stem vermaak toe hy die skool in ’n roerende Sweet Caroline gelei het. Ons graad elf-dramaleerders het die skool ook met ’n oorspronklike komiese vertoning (waarin hulle 20 musiekblyspele in vyf minute uitgebeeld het) verras.

Donderdag, 25 Augustus

DF het baie uitgesien om in Great Gatsby-geïnspireerde kleredrag skool toe te kom vir die Roaring ’20s J&B MET. Elke registerklas het ’n “perderuiter” en “perd” genomineer om hulle in die wedren op die rugbyveld te verteenwoordig. Daar is ook ’n kompetisie vir die beste kostuum! Die matriekmeisies het gedurende pouse met hul damesdans (choreografie deur Nicola Steyn, Carlene Theart, Enge Coetzer en Luca Steinhobel) gees vir die skool gebring. Die matriekseuns se Audacity-dans het almal ook laat glimlag.

Vrydag, 26 Augustus

Die oggend het bedrywig met toet vir DF voor skool begin.

Gedurende pouse was daar ’n doughnut-eetkompetisie waaraan ’n mens vir R20 kon deelneem.

Die A-spanne het hul ondersteuners by DF se big brag trots laat juig. DF se eerste spanne het die saal ook met treffende video’s vermaak.

By Bellville het DF se hokkiespanne en al die blou gees op die pawiljoene ons trots gemaak.

Vrydag se gees op die pawiljoen | Foto: Die Hoërskool DF Malan

Saterdag, 27 Augustus

Sekere van die hokkiespanne wat nie Vrydag gespeel het nie, het vandag verder gespeel. Die netbalspanne het ook DF se naam hoog gehou.

Voor die optog van DF en Bellville se kapteine, meneer en mejuffrou Bellville en DF se meneer en mejuffrou Interskole (Reagan Johnson en Anique Visagie), het DF vir die eerste keer in jare ’n geesvertoning aangebied. Dit was werklik merkwaardig om weer, na só lank sonder MTBS, so iets pragtig saam te kon uitvoer.

Die rugbyspanne het goed gespeel en Dee-Effers trots gemaak.

DF wens vir Die Hoërskool Bellville geluk met hul oorwinning.

Die dag het op ’n noot van samesyn en dankbaarheid afgesluit toe Dee-Effers die skoollied hard saam gesing het.