Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
- lesers

“Moenie so gestres lyk nie, Janlu. Wanneer die musiek begin speel en jy haar sien, sal al jou bekommernisse verdwyn. Glo my,” fluister Dian in sy oor.

“Ek is nie gestres nie. Ek weet alles sal goed gaan,” fluister hy terug, maar hy voel hoe sy hart al hoe vinniger in sy keel begin klop.

Vandag is veronderstel om een van die spesiaalste en gelukkigste dae in sy lewe te wees, maar hy kan nie anders as om te dink dat dit nie moet voel soos wat dit nou voel nie. Die sweet tap by hom af en dit is asof die mure van die saal al hoe nader beweeg. Binnekort gaan hy versmoor. In sy hart voel iets net nie reg nie. Om eerlik te wees, hy weet nie eers wat ’n mens eintlik op so ’n dag móét voel nie. Miskien is Dian reg. Dit is sekerlik net die spanning wat hom so in sy besluit laat twyfel.

Die ritmiese beweging van die wysers op die muurhorlosie agter in die saal begin hom nou terg. Dit is al klaar kwart oor tien. Sy is vyftien minute laat en die mense in die gehoor is besig om onrustig te raak. So nou en dan sien hy gesigte wat kort-kort omdraai en na die wysers loer. Iewers hoor hy ’n baba wat begin huil en ’n ma wat probeer troos. Toe begin die musiek speel…

Almal in die gebou raak doodstil. Die gaste staan op uit hulle banke en draai om om na haar te kyk. Toe sy in die groot dubbeldeure verskyn, ontmoet hul oë.

Al wat hy nou kan hoor, is die musiek wat speel, maar dit stel hom nie so gerus soos wat hy gehoop het nie.

Sy stap selfversekerd na hom by die altaar en kyk liefdevol na hom. Versigtig klim sy by die trappe op tot voor hom. Wanneer sy hom weer in die oë kyk, met ’n breë glimlag op haar gesig, weet hy presies hoekom die skoenlappers in sy maag nie dieselfde as destyds voel nie.

Sy gedagtes maal soos ’n warrelwind deur sy kop: wat gaan hy nou doen? Dalk verbeel hy hom net dat hy twyfel?

“Janlu, is iets fout?” vra sy skielik.

“Skuus? Ja-nee, alles is reg. Moenie bekommerd wees nie,” probeer hy haar gerusstel, maar hy weet nou dat hy nie die waarheid vertel nie.

Voor hy weer sien, is die dag verby en hy is ’n getroude man. Hy sal, soos die wysers van die horlosie, moet stadigaan bly voortbeur.