Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Frida Nel
- lesers

Almal wil so nou en dan ’n breek van hulle besige skedules neem. Hier is ’n lys van tien aktiwiteite wat jy teen ’n bekostigbare prys in Kaapstad kan doen.

1. Ysskaats

Trek jou gehuurde skaatse aan en geniet die koue teen slegs R65 per persoon. Nooi ’n ekstra 9 mense en julle betaal dan slegs R55 per persoon. Op Saterdae is die ysskaatsbaan oop vanaf 9:00 tot 24:00.

Adres: Grandwest Casino

2. Ten Pin Bowling

Vir slegs R60 per persoon kan jy vir jou vriende wys hoe om vinnig-vinnig 10 boulpenne om te gooi. Op Saterdae is die boul-arena oop vanaf 08:00 tot 24:00.

Adres: Grandwest Casino

3. Boston Coffee

Jy hoef nie tot Maandag te wag vir jou heerlike koppie boeretroos nie, want Boston Coffee is minder as ’n kilometer van DF af. Boston Coffee is ook op Saterdae vanaf 07:30 tot 13:00 oop. Hulle verkoop die lekkerste brownies en saam met hulle perfekte latté is dit werklik ’n wennerkombinasie!

Adres: Cleveland Straat, Boston, Bellville

4. Holland Bakery

Dié bakkery verkoop alles van soet tot sout - en selfs ’n paar eg-Hollandse leefstylprodukte. Die pryse van hulle produkte is billik en wissel tussen R45 en R100. Hulle is van Maandae tot Vrydae tussen 9:00 en 16:00 oop. Onthou om ’n afspraak te maak as jy van plan is om hulle tydens die week te besoek.

Adres: Ou Old Mutual-gebou, Durbanweg, Bellville

5. ’n Stappie op die Promenade

Hierdie aktiwiteit is ’n 3-in-1: Jy oefen, geniet gratis toegang en aanskou ’n pragtige uitsig van die see! Boonop is dit altyd oop, so jy hoef jou nie oor sluitingstye te bekommer nie.

Adres: Groenpunt, Kaapstad

6. Piekniek in die Kirstenbosch-tuine

Wat is nou lekkerder as ’n piekniek op groen gras met allerhande soorte voëls wat bo jou kop rondsweef? Kinders tot en met die ouderdom van 17 betaal slegs R30 as ’n ingangsfooi en 18-jariges R50. Die tuine is vanaf 08:00 tot 19:00 oop.

Addres: Rhodes Rylaan, Newlands, Kaapstad

’n Stappie in Kirstenbosch | Foto: Frida Nel

7. Leeukop

Met ’n 360°-uitsig oor die hele stad, is dié vyf kilometer-staptog beslis die moeite werd! Om Leeukop aan te durf, sal jou niks behalwe so twee of drie ure van jou dag kos nie. Daar is ’n paar moeilike hindernisse wat jy moet oorkom, maar as jy ’n passievolle stapper is, is dit niks wat jy nie sal kan hanteer nie.

8. Tygerberg Natuurreservaat

Die Tygerberg Natuurreservaat het 13 staproetes waaruit ’n mens kan kies. Dit kortste roete is 380 m en die langste een is 3,6 km.

Koste: Onder 18’s – R10

18 en ouer – R20

Adres: Totius Straat 1, Welgemoed

9. Skeleton Gorge

Hierdie staproete begin in die Kirstenbosch-tuine en eindig by Maclear’s Beacon. Dit vat omtrent 3 ure om die roete te voltooi, maar dit hang hoofsaaklik af van hoe fiks jy is, aangesien dit ’n lang en steil sewe kilometer-roete is.

10. Chapman’s Peak

Hierdie 4,6 kilometer-bergpasstaproete begin en eindig by Chapman’s Peak Rylaan. Dit is verniet en jy hoef net as ’n dagbesoeker by die kantoor aan te meld. Dit neem ongeveer 3 ure om die roete te stap, maar kan langer neem.

As jy in die vakansie lus is om ’n bietjie uit die huis te kom, bied hierdie aktiwiteite heerlike ontspanning teen redelike pryse.