Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Die Hoërskool DF Malan
- lesers

Wie is Ryan Pedro? Ryan is ’n jong digter van Kakamas wat al ’n verskeidenheid pryse gewen het, steeds is hy ’n nederige, plat-op-die-Aarde-persoon.

Die OP!T-komitee het vir Ryan ’n verskeidenheid vrae gevra, en hy het elkeen so volledig as moontlik beantwoord.

Hier volg ’n paar van die vrae wat die lede gevra het:

Sal hy almal meer van sy grootwordjare vertel?

Ryan het in Kakamas grootgeword, en sy pa - wat ’n Afrikaansonderwyser was - is die rede vir sy liefde vir die digkuns.

Watter tipe persoon was hy op skool?

Ryan was, om hom aan te haal, ’n “menace” op skool.

Wat het hy na skool gaan doen?

Ryan het gaan studeer en het ons meer daarvan vertel. Hy is tans steeds met sy studies besig.

Hoekom het hy begin skryf?

Ryan het prontuit geantwoord dat hy in graad-11 begin skryf het om ’n sekere meisie te beïndruk. Hy het wel genoem dat dit nie meer sy beweegrede is nie. Hy skryf nou omdat hy daarvoor lief is.

Is daar ’n skryfproses wat hy volg?

Ryan het geantwoord dat daar nie ’n spesifieke skryfproses is wat hy volg nie, en hy wag ook nie vir inspirasie nie. Hy skryf wanneer hy wil en waaroor hy wil. Hy wag nie vir inspirsasie om hom te vind nie, maar probeer inspirasie in alles vind.

Ryan het ons op 16 Augustus 2022 om 19:00 by die DF-Trein besoek. Die aand saam met hom het ongeveer twee ure lank geduur, met heerlike eet- en drinkgoed, deur die OP!T-komitee voorsien. Hierdie versnaperings het warmsjokolade, malvalekkers, melktert, samosas en hondjievormige koekies ingesluit. Vir ’n bietjie hitte op die koue wintersaand, het die OP!T-komitee die trein se binnebraai aangesteek. Dit het ook ’n gunstige atmosfeer meegebring.

Versnaperings | Foto: Die Hoërskool DF Malan

Ryan het twee gedigte uit sy bundel Pienk Ceramic-Hondjies gelees. Die gedig wat my die meeste geraak het, was Mixtape 3. Ryan het gesê dat hierdie hoofstuk vir hom baie spesiaal is omdat hy dit geskryf het toe ’n vriendin van hom deur ’n baie moeilike tyd gegaan het. Die gedig handel oor die spreker wat saam met sy geliefde op die stoep staan terwyl hulle twee na hul grootwordjare verlang.

Die aand saam met Ryan was ’n uiters verrykende ervaring. Dit was lekker om ’n jong digter te ontmoet, veral een wat so verfrissend is. Ek hoop van harte dat die OP!T-komitee weer iets soos dié aand sal reël, sodat Dee-Effers meer blootstelling aan die taal en al sy skatte kry.