Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Netflix
- lesers
★★★★★

Die sesde en finale reeks van Peaky Blinders is op 10 Junie 2022 op Netflix vrygestel. Die nuwe reeks begin met dieselfde spannende noot waarop die vorige reeks afgesluit het en sal jou senuweeagtig die mees onlangse ses episodes laat verorber.

Verwag ’n storm. In Peaky Blinders se nuwe reeks konfronteer bendeleier, Thomas Shelby, weer sy demone terwyl hy sy magsposisie in pre-tweede wêreldoorlog-Birmingam teen menige vyand probeer verdedig. Hierdie keer raak dinge gevaarliker en is alles weer vir Thomas Shelby op die spel terwyl hy met sy mededingers, asook innerlike morele wroegings, moet stoei.

Cillian Murphy vertolk die rol van Thomas Shelby met oorgawe. Hy word deur briljante akteurs en aktrises soos Paul Anderson, Sophie Rundle en Anya Taylor-Joy ondersteun. Die eerste episode van die reeks is aan Helen McCrory opgedra, maar die ikoniese aktrise (wat Aunt Polly in die reeks gespeel het) se afwesigheid laat ’n onvulbare leemte in die reeks agter, nadat sy in 2021 oorlede is.

Die kamerawerk en beligting is weereens kunstig en intelligent uitgevoer. Onder leiding van regisseur, Anthony Byrnes, het die sesde reeks definitief ’n gevoel van finaliteit, al verlaat dit kykers met baie vrae.

Die klankbaan bevat weer pensiewe volksmusiek-verwysings en liedjies van PJ Harvey, IDLES en Sinéad O’Connor. Die temalied deur Nick Cave and the Bad Seeds verskyn ongelukkig minder in die nuwe reeks (dalk om aan kykers oor te dra dat die “nuwe” Thomas Shelby nie dieselfde as in die vorige reekse is nie?). Ek was egter bly om Nick Cave and the Bad Seeds se Do You Love Me? te hoor.

Skepper van Peaky Blinders, Stephen Knight, skryf hierdie aksie-drama met indrukwekkende tegniek en spreek temas soos sterflikheid, die mistiek en wraak op ’n unieke, hartverskeurende manier aan.

Ek beveel Peaky Blinders vir aanhangers van geskiedkundige dramas aan. Jy sal ook aanklank daarby vind as jy lus het vir ’n aksiereeks wat jou hart deurlopend sal laat drumroll. Gaan kyk dit, by order of the Peaky Blinders.

(Sensitiewe kykers moet weet dat reeks ses van Peaky Blinders, soos in vorige reekse, uitbeeldings van middelmisbruik, seksuele tonele, kru taal, geweld en sprake van selfmoord bevat.)