Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Lize van Rooyen
- lesers

Wie is Tala se grootste inspirasie in die skool? Wat beplan sy om met die res van haar lewe te doen? Wat is haar raad vir oorlewing in die hoërskool? Kom ons leer ken ons hoofmeisie, Tala Wiese!

Wat is een van jou gunsteling-herinneringe van DF?

Daar is regtig ’n klomp! Die jaar wat ons dubbel goud gewen het by MTBS maak verseker die lys. Die samehorigheid van die skool wanneer ons ’n gemeenskaplike doel bereik, is ’n wonderlike gevoel. Beide die koortoere wat ek al bygewoon het was ook net woah. En dan natuurlik Interskole-debat in 2019! Dit was die beste ervaring om te weet dat jou hele skool jou bystaan. Ontgroening saam met hierdie jaar se graadagt-groep was ook fantasties. Dit was so lekker om almal te leer ken.

Beskryf jou graadagt-ontgroening in net drie woorde.

Opwindend, warm… dit was verskriklik warm! En elektries.

Wat is jou beste raad vir oorlewing in die hoërskool?

Doen jou wiskunde huiswerk! Moenie eers begin agter raak nie. Kry genoeg slaap. Dit is ’n stuk raad wat my wêreld sou kon verander as ek dit net sou volg! Kry ook ’n lêer waarin jy al jou los papiere gooi. Glo dit of nie, maar ek is glad nie ’n georganiseerde mens nie. Daardie lêer het my lewe gered.

Wie is jou grootste inspirasie in die skool?

Ongetwyfeld my geskiedenis-onderwyseres, juffrou Sanet Meyer. Sy is die perfekte mengsel van skoolwerk prioritiseer en leerders se emosionele gesondheid oppas. Sy het soveel empatie wat sy uitstraal!

Wat is jou planne ná matriek?

Ek het vir ’n klomp BSc-grade ingeskryf. Ek het vir Marienebiologie by UCT ingekom. Dit is net een van die opsies wat ek oorweeg. Ek het ook vir medies aansoek gedoen! Dit is ook iets wat ek baie graag wil doen. Ek het nie ’n droom om by ’n spesifieke universiteit te swot nie. Waar ook al ek my graad kan doen, is ek gelukkig! Ek weet dat het die Here, op die ou end, ’n plan met my lewe het. Hy sal my op die regte pad lei!

Beskryf wat jy as ’n perfekte dag sien.

Ek sal my dag begin deur eers negeuur of tienuur op te staan. Ek sal lekker warm aantrek want dit sou ’n reënerige en koue oggend wees. Winter is my heel gunstelingseisoen! Ek sal dan vir my hondjie baie liefde gee en dan dadelik kombuis toe gaan. Vir ontbyt kyk ons na ’n lekker koppie koffie en avo-roosterbrood met tamatie. Ek sal dan op ons stoep gaan sit en oor ons groen tuin uitkyk. Vir middagete sal ek sushi gaan eet en vir Lize en Zack saamnooi. Vir die res van die middag sal ek ’n goeie boek lees of musiek aansit en verf. My perfekte dag is gebaseer op die kos, so ons sal daardie aand braai! Laastens sal ek weer lekker lees of tot tweeuur die oggend flieks kyk. Ek is ’n massiewe naguil!

Wat is jou grootste passie?

Debat! Ek praat gemakliker in Engels, maar ek is net so lief daarvoor om in Afrikaans te praat. Ek is mal oor draf en ek is versot op lees. Ek is ook baie lief vir kuns en baie van my tyd word daaraan bestee. Ek is ook só lief vir die natuur. Ek is baie bevoorreg om ouers te hê, veral my pa, wat net so mal is oor die natuur.

Vinnige vrae

Gunstelingfliek?

The Grand Budapest Hotel, The Fantastic Mr Fox en Under the Tuscan Sun.

Het jy ’n geheime talent?

Ek kan my oë kruis!

Go-to bestelling by die Koffieblik?

’n Cappuccino.

Gunstelling-medley?

Afrikaans en dan Rebel!

Gunstellingboek?

The Book Thief en The 5 People You Meet in Heaven.

Dit of Dat:

Fiksie of nie-fiksie?

Fiksie.

Duitsland of Suid-Afrika?

Suid-Afrika.

Oggendmens of ’n aandmens?

Aandmens.

’n Dag in of ’n dag uit?

’n Dag uit.