Daar is vir sommige mense niks erger as om hard vir ’n eksamen te leer en dan tydens die toets nie te onthou wat om te skryf nie. Hierdie scenario is in werklikheid wat baie meer algemeen en normal is as wat ons besef.
Ondersoeke het bewys dat mense 56% van inligting binne een uur vergeet, 66% na ’n dag en 75% na ’n week. Die brein is verskriklik indrukwekkend, maar het sy perke. Alle inligting wat ons inneem, word as kort- of langtermyn herinneringe gestoor.
Die Decay-teorie is die teorie dat geheue wat nie weer herroep word nie, geleidelik moeiliker sal word om, elke keer wat jou brein nuwe inligting absorbeer, te onthou. Wanneer daar ’n sekere deel inligting is wat jou brein as onbelangrik beskou, sal dit geleidelik moeiliker word om te onthou.
’n Ander ding wat kan gebeur, staan as interference bekend. Dit gebeur wanneer daar twee teenstrydige herinneringe is wat baie soortgelyk is. Ons kry proaktiewe en retroaktiewe interference. Proaktiewe interference gebeur wanneer ou herinneringe met nuwe herinneringe teenstry. Retroaktiewe interference is weer die teenoorgestelde waar nuwe herinneringe met ou herinneringe teenstry. Hierdie vorm van geheueverlies vind hoofsaaklik in langtermyngeheue plaas. Dit veroorsaak dat jy soms inligting van ’n sekere onderwerp meng met ’n ander.
Daar is natuurlik ook minder wetenskaplike redes waarom mense nie belangrike inligting kan onthou nie. Mense gaan wel nie deur die lewe om inligting te onthou nie, maar om die sekere aktiwiteit of byeenkoms in die oomblik te geniet. Jy sal nie ’n sosiale byeenkoms bywoon net om te kan onthou wat presies gebeur het nie. Jy sal eerder die ervaring wil geniet. Mense is meer geneig daartoe om die wêreld te probeer verstaan as om dit te probeer onthou. As ons so desperaat was om net inligting te onthou, sou die wêreld vandag baie anders wees. ’n Wetenskaplike sal geen eksperimente kan uitvoer as hulle net sit en die teoretiese werk wat hulle alreeds gelees het oor en oor memoriseer nie. Natuurlik is dit belangrik om teoretiese werk te ken, maar niemand gaan eendag vir jou vra om die 118 elemente van die periodieke tabel uit jou kop uit op te sê nie.
Wetenskaplikes het ook bewys dat die vermoë om te vergeet eintlik ’n goeie ding is. Wanneer mense deur ’n hartseer tyd gaan of trauma moet verwerk, kan hulle beter begin voel met die verloop van tyd. Na ’n sekere hoeveelheid tyd word herinneringe meer vaag en kan ons makliker van situasies wat in die verlede gebeur het, aanbeweeg. Die vermoë om inligting te vergeet, kan ook voordele hê. As jy onnodige inligting, soos watter vak se huiswerk jy drie weke terug voltooi het (of nie voltooi het nie) vergeet, kan jy nuwe inligting makliker leer. Dit staan as aanpassende geheue bekend.
’n Mens se geheue is gemaak om selektief te wees en dus is dit normaal om belangrike inligting te vergeet. Vir tieners kan kwessies soos angs, stres, te min slaap en ’n oorvol-skedule, hiertoe bydra. Wanneer jy groot hoeveelhede inligting moet memoriseer, is dit belangrik dat jy nie te veel ekstra druk op jou liggaam plaas nie. Jou brein gaan sukkel om die inligting suksesvol te stoor as jy angs beleef of eenvoudig te moeg is. Jy moet dit probeer uitken en verander as jy sukkel om inligting te memoriseer.