Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Shianne Brand
- lesers

Valentynsdag is ’n dag wat wêreldwyd gevier word. Dit is ’n dag waar geliefdes hulle liefde aan mekaar wys deur geskenke soos hartvormige sjokoladeboksies, blomme en kaartjies vir mekaar uit te deel.

Hoekom vier ons egter Valentynsdag op die 14de Febuarie? Hoe het Valentynsdag eintlik begin? Met die Valentynsdag nou op ons, het ek ondersoek ingestel oor die oorsprong van hierdie dag wat sommige mense so afwag en ander vrees.

Die geskiedenis van Valentynsdag is effens vaag met talle moontlike oorspronge. Dit gaan al die pad terug na die antieke Romeinse fees Lupercalia wat in die middel van Febuarie gevier is. Lupercalia was ’n fees wat die koms van die lente gevier het en het vrugbaarheidsrituele bavat waar meisies hulle name op kaartjies geskryf en in ’n groot bak gegooi. Die seuns sou dan kaartjies getrek het om paartjies te vorm.

Aan die einde van die vyfde eeu n.C het die kerk die antieke Romeinse fees verchristelik deurdat Pous Gelasius die 14de Febuarie as st. Valentynsdag verklaar het.

Sommige dele van st. Valentyn se lewe is vandag onduidelik - veral die feit dat vroeër bronne ten minste drie verskillende St. Valentyns identifiseer en (wat nog vreemder is) dat al drie op die 14de Febuarie gesterf het. Dit is egter waarskynlik dat die twee “hoof-Valentyns” dieselfde persoon kon wees.

Daar word geglo dat een van die st. Valentyns in die derde eeu n.C, gedurende Keiser Claudius II se heersing oor Rome gelewe het. Keiser Claudius wou sy weermag versterk. Mans wou nie vrywillig by die weermag aansluit en hul geliefdes verlaat nie. Cladius het dus besluit om troues vir jong mans te staak en dit ’n vreeslike oortreding maak om te trou.

St. Valentyn het gedink dit is ’n onredelike idee en het jong paartjies in die geheim laat trou. Daar is ook geglo dat hy op ’n tyd in die huis van ’n adellike gevangene geneem is. Hy het die adellike se blinde dogter genees, wat veroorsaak het dat die hele huishouding hulle tot die Christendom bekeer het.

St. Valentyn is uiteindelik deur Cladius uitgevang en het die doodstraf ontvang.

Terwyl hy in die tronk was, het talle mense blomme en briewe as simbole van hul dankbaarheid in sy tronksel gegooi. Mense glo st. Valentyn het op die tronkbewaarder se dogter verlief geraak. Op die dag van sy dood het st. Valentyn ’n brief aan haar oorgegee waarmee hy met met liefde van jou Valentyn afgesluit het - ’n frase wat vandag nog gebruik word.

Dit was egter eers later dat Valentynsdag definitief met romantiese liefde geassosieer is.

Die idee dat Valentynsdag ’n dag van liefde is, kry sy oorsprong by Geoffrey Chaucer se Parliament of Fowls, ’n gedig wat in die laat 14de eeu geskryf is. Dit beskryf ’n groep voëls wat in die vroeë lente op Valentynsdag bymekaarkom om hul maats vir die jaar te kies.

Die eerste geskrewe Valentynsdagkaartjie het in die 15de eeu verskyn. Teen die 17de eeu het talle mense in Brittanje ’n tradisie begin om Valentynsdagkaartjies of -briewe uit te ruil. Die eerste massaproduksie van Valentynsdagkaartjies het in die 1840’s na vore gekom. Die verbruikersmark het drasties gegroei en vandag is Valentynsdag die tweede grootste geleentheid in die jaar waar kaartjies vir geliefdes gestuur word!

Ons vier Valentynsdag nie net vir die sjokolade, blomme en kaartjies nie, maar om ons geliefdes te herinner dat ons hulle waardeer en om spesiale tyd aan hulle te bestee. Dit is ’n pragtige gedagte, al klink dit ook cliché.

Probeer kreatief wees in die manier hoe jy jou waardering vir die belangrike mense in jou lewe wys.