Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Carel Stander
- lesers

Donderdagaand, 28 Julie, het daar behoorlik geeste in DF se gange gesweef. Afwagting onder die graadagts en -neges was hoog. Dit was DF se eerste spookhuis na twee jaar van COVID-19-beperkings. Die matrieks het hierdie riller-fondsinsameling vir die juniors ten bate van Aksie Omgee aangebied.

Die matrieks het van ná skool tot sesuur hul kostuums en grimering gereed gekry en die skool met kreatiewe dekor in ’n spookhospitaal verander.

Toe dit donker word, het die juniors die spookhuis aangedurf. Sonder om te weet wat om te verwag, het hulle die toer saam met hul Raad van Leerders-toergidse in die voorportaal begin. Daar het juffrou Weisse en juffrou Van Hulst die kinders eerste met vreesaanjaende gille skrikgemaak.

Min het die graadagts en -neges geweet dat dit nog niks is teenoor dít wat sou kom nie.

Die kinders het in ’n mistige gang op pad na hulle eerste stop – die noodgevalkamer - gestap. In hierdie kamer het die ligte flikkerend vrees by die juniors geskep.

Daarna volg die kraamsaal waar die gille seker nog lank by die kinders sal spook.

Die orgaanskenkkamer met regte longe, ingewande en ’n hart deur ’n slaghuis verskaf, sou enigiemand se nekhare laat rys.

Foto: Carel Stander

Volgende stop: kosmetiese chirurgie waar die kinders senuweeagtig in die dokter se spreekkamer moes wag en toe ’n vreesaanjaende vertoning deur Reagan en Emma ervaar het.

Laaste op die toerlys was die operasieteater waar pasiënte links en regs opgespring het en van onder hospitaalbeddens uitgespring het.

Daar was vreemde geluide oor die interkom, spookpasiënte in jaende rolstoele en pikdonker gange. Die matrieks kon dit behoorlik regkry om die juniors in ’n ander bloedgroep skrik te maak!

Volgens die juniors het Reagan se “spreekkamer”, asook die chirurgie-teater, die meeste vrees by hulle opgewek.

Nicola Steyn (@nicoladoesmakeup op Instagram) het die grimering gedoen. Met spesiale effekte-grimering kon sy ’n realisme aan die spoke bring wat beslis die juniors die skrik op die lyf gejaag het. Allerlei kostuums, van dié van bloedbesmeerde dokters en pasiënte tot verband-bedekte skimme en gemaskerde spoke, het almal met vrees vervul.

Foto: Cara Louw

Kaartjies het R30 gekos en al die geld het na Aksie Omgee gegaan. Byna 300 kaartjies is verkoop en R9000 is vir dié goeie doel om ander te help, ingesamel.

Dankie aan al die matrieks wat dit ’n onvergeetlike aand gemaak het en ’n ervaring vir die juniors geskep het wat nog vir lank in hulle drome sal dwaal…

Kontak isentrum@dfmalan.com vir navrae oor Aksie Omgee.