Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Emma Snyman, wenner van Netwerk24-Skolenuuskompetisie se Beste Feature Foto- kategorie
- lesers

Sonder die natuurlike hulpbronne wat die Aarde aan ons voorsien, kan lewe op Aarde nie voortgaan nie. Ons is so gewoond aan die noodsaaklike hulpbronne wat tot ons beskikking is dat ons soms vergeet om dit op ’n volhoubare manier te gebruik. Dis normaal om winkel toe te gaan en te verwag dat hulle al die produkte sal hê wat jy benodig. Die realiteit is dít: indien iemand nie daardie produkte vervaardig nie, sal dit nie op die winkelrakke wees nie. Dis dieselfde met die Aarde se hulpbronne. As die Aarde nie kans kry om sy hulpbronne te herstel en te hernu nie, sal dit binnekort nie meer beskikbaar wees vir menslike gebruik nie.

Ons leer op skool dat sommige hulpbronne hernubaar is en ander nie. As ons wel aanhou om hulpbronne op ’n onvolhoubare wyse te gebruik, kan daardie hernubare hulpbronne ook opraak. Volgens wetenskaplikes gebruik mense 70% meer hulpbronne op’n jaarlikse basis as wat die Aarde kan voorsien.

Met ander woorde: die mensdom benodig 1,7 planete om die hoeveelheid hulpbronne te voorsien wat ons tans gebruik.

80% van ons energie is van fossielbrandstowwe soos steenkool, olie en gas afkomstig. Talle maatskappye wend pogings aan om alternatiewe hulpbronne soos son- en windkrag te gebruik om energie te bespaar. Hierdie verandering is van kardinale belang, aangesien wetenskaplikes beweer dat al ons fossielbrandstowwe teen 2060 op sal raak as ons nie na ’n groener alternatief kyk nie.

Alhoewel daar nie beweer is dat metale vining sal opraak nie, is dit steeds noodsaaklik dat ons hierdie waardevolle hulpbron volhoubaar moet gebruik. Rekenaars, selfone, masjienerie en mediese toestelle soos MRI- masjiene word alles met metale gemaak. As dit opraak, sal ons gedwing word om ons hele manier van lewe te verander.

Nog ’n deel van die planeet wat noodsaaklik is vir lewe, is reënwoude en die oseaan. Reënwoude produseer 20% van die aarde se suurstof en oseane 50-80%.

Hiersonder kan lewe op Aarde nie bestaan nie.

Die aarde se suurstof word al vir miljoene jare al hoe minder en alhoewel dit nie in ons leeftyd sal gebeur nie, sal daar eendag geen meer bruikbare suurstof op die Aarde wees nie. Dit is grootliks as gevolg van massas koolstofdioksieduitlatings. Wetenskaplikes beweer dat daar katastrofiese gevolge sal wees as al die Aarde se suurstof vir selfs vyf sekondes verdwyn. Vliegtuie sal uit die lug val en sommige geboue sal eenvoudig in stof verander. Ons sal nie eers noem wat dit aan die menslike liggaam kan doen nie.

’n Ander noodsaaklike hulpbron is water. 70% van die Aarde se oppervlakte is met water bedek, maar 95% van hierdie water is onbruikbaar. Daarom is dit belangrik dat ons nie die klein hoeveelheid water wat ons het, mors nie.

Daar is natuurlik baie ander hulpbronne soos bome, grond, plante en diere. Al hierdie hulpbronne is gesamentlik noodsaaklik vir oorlewing. Sonder dit sal die mensdom eenvoudig nie kan funksioneer nie. Dit bewys net vir ons hoekom ons aandag moet gee aan hoe en hoeveel hulpbronne ons gebruik en dat die mens nie ’n eiland is nie.