Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
- lesers

Robin skiet met haastige voetstappe by die straat af. Die klank wat deur die straat weergalm, verpletter die oggendkalmte.

Sy glip net betyds by die trein se deure in - net voor dit die stasie verlaat. Uitasem plak sy op die naaste sitplek neeer met haar warm asem wat skaars genoeg is, onder haar masker.

Terwyl sy die treinkar bekyk, besef sy weer hoe min mense so vroeg die treine gebruik. Die enigste ander siel wat met haar in die treinkar sit, is ’n jong vrou - heel moontlik op universiteit.

Die vrou sit met ’n ongeverfde doek en ’n klein kis, gevlek met verf van verskeie kleure, op die sitplek langs haar. Robin kom agter dat die vrou se bloes ook met verskeie kleure gevlek is.

Skielik draai die vrou na Robin, met ’n begeerte in haar oë wat Robin nie kon verstaan nie.

“Verskoon my,” roep die vrou met ’n sagte tenoorstem. “Sal u omgee as ek u skilder?”

Robin verbaas haarself dat sy instem, maar berou ook vinnig haar keuse. Sy het nog nooit daarvan gehou om aandag te kry nie, maar die vrou het haar op ’n manier wat sy nie kon beskryf nie, ontstel, amper asof die vrou haar siel bestudeer.

Terwyl Robin by die venster uitstaar, soos die vrou gevra het, begin die vrou te skilder. Die worsteling van die trein vertraag nie haar werk nie. Robin is egter nuuskierig.

“Hoekom wil jy my skilder?”

“Ek wil ’n portret skilder van die persoon wat ek was,” antwoord sy en glimlag.

Robin gee ’n hartseer lag en stry met die vrou: “Ek weet definitief dat jy vir my lieg. Ek ken myself. Ons lyk nie dieselfde nie.” Terwyl die vrou soek vir verf, antwoord sy: “Dis nie ’n prent van die liggaam nie, maar van ons gevoelens, ons ervarings.’

“Ek ken die leegheid in jou hart,” verduidelik sy verder. “Want dit is ook my leegheid. Dit is die gaping in my siel wat ek nie kon verstaan nie. ’n Visuele medium het my egter gehelp verstaan; dus het ek dieselfde hoop vir jou.”

“Dis klaar,” sê die vrou terwyl sy die skildery na Robin draai sodat sy kan sien. Robin voel haar hart vries en haar brein sukkel om haar gevoelens te verstaan terwyl sy die skildery bekyk.

Dit is Robin in die prent. Dit is egter ’n weergawe van haarself wat sy uit vrees nie kon aanvaar het nie. Haar lang krulhare is weggeskeer, die borste wat haar altyd so pla, weg asof hulle nooit daar was nie. ’n Donker, dik snor wat haar bolip bedek, terwyl sy die swart pak dra wat sy altyd begeer het, maar haar ouers haar nooit sou toelaat om te dra nie.

Robin hoor die trein stop en hardloop by die deure uit om te probeer ontsnap van dít wat sy gesien het.

Haar waarheid.

Sy waarheid.