Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Emma Olivier
- lesers

’n Veld vol kosmosse laat my altyd aan feetjies en sprokiesverhale dink - ’n Betowerende beeld wat ’n mens se oë vasgryp.

Perfekte blomme wat tot 180 sentimeter hoog kan groei met kragtige, kleurvolle gesiggies - hierdie fraai blomme blom twee keer in ’n jaar, in Maart en November.

Kosmosblomme is wel nie inheems aan Suid-Afrika nie, maar hulle is fyn in ons geskiedenis ingeweef. Tydens die Anglo-Boereoorlog is kosmossade as bestanddeel in die perdevoer van die Britse magte gebruik. Die sade het, soos die Britte gereis het, oor die land versprei. Vandag blom hulle die velde vol.

Die kosmosblom, anders bekend as die nooientjie-in-die-gras, is eintlik naverwante familie van die sonneblom en die madeliefie. Hulle kleurvariasies sluit rooi, pienk, geel en wit in.

Die blom se naam kom van die Griekse term vir harmonie onder die heelal. Griekse mitologie staaf dat die Griekse gode geglo het dat daar ’n perfekte harmonie in die natuur moet wees: iets wat orde tot chaos bring. Spaanse priesters het blomme sien groei en gevoel dat die blommetjies perfekte harmonie in die natuur verteenwoordig en hulle “kosmosse” genoem.

In die Viktoriaanse tydperk het kosmosse vreugde en harmonie oor die ontvanger van die blom gespreek. Rooi en wit wens vir die ontvanger vreugde in ’n romantiese verhouding toe. Pienk verteenwoordig ’n moederlike liefde en geel is vir vriendskaplike liefde, of hoop vir miskien ’n “ietsie meer” wees.

Aandag alle sjokoladeliefhebbers! Spits julle neuse.

Die kosmos het ’n verrassende variant, die sjokolade-kosmos. Hierdie blom is ’n diep, donkerrooi en ruik na soet sjokolade! Die sjokolade-kosmos is ’n blom wat intense liefde vertolk en die boodskap stuur van: “Niemand het jou liewer as ek nie”. Gee dus volgende keer vir jou geliefde ’n ruiker sjokolade-kosmosse, in plaas van ’n gewone ou sjokolaatjie.

Kosmosse het oor tyd baie ander betekenisse bygekry. Hulle verteenwoordig balans, rustigheid, onskuld, liefde en skoonheid. Hulle is ook die simbool vir die Word Kindness Movement, in 1998 begin, wat elke jaar op 13 November gevier word.

Die kosmos word, nes talle ander plante, ook in tradisionele medisyne gebruik en is byvoorbeeld in Brasilië ’n behandeling vir Malaria. Die blomme bevat anti-oksidante, anti-inflammatoriese - en antimikrobiese eienskappe. Cosmos caudatus, bekend as Koningslaai, is een van die kosmosse met baie mediese gebruike. Dit word gebruik om bloedsirkulasie te verbeter, bene te versterk, infeksies teen te werk en ook om koors te verlaag. Dit is ’n gewilde bestanddeel in Indonesiese en Maleisiese geregte weens die lang lys mediese voordele wat dit inhou.

Kosmosse lok ook talle tuinkaraktertjies soos skoenlappers, kolibries en moontlik ’n paar tuinfeetjies…

Maak seker dat jy, sodra November aanbreek, in die veld rondloer. Miskien kan jy vir ’n spesiale vriend ’n kosmosblom gee.