Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Skermgreep van Tydelike Afleiding-musiekvideo
- lesers

Ek het die sangeres, Margot Rothman, se sangstem die eerste keer gehoor toe sy Grace VanderWaal se I Don’t Know My Name in DF se 2017-revue gesing het. Ek het hoendervleis gekry. Ek was toe nog nie in DF nie, maar was al klaar beïndruk met die hoeveelheid talent wat ek daardie aand gesien het.

Margot, oud-Dee-Effer, het in 2018 gematrikuleer en woeker vandag in die Afrikaanse musiekbedryf, gereeld saam met haar broer, Loki Rothman, maar ook as ’n talentvolle solo-kunstenaar. Haar debuut-enkelsnit, Tydelike Afleiding, is in 2020 vrygestel en het die klank van kleurvolle moderniteit - beskryf as ’n “internasionale klank”.

Die treffer kom saam met ’n gladde, dinamiese musiekvideo vol tekstuur en kreatiewe ligwerke en ’n gees van heldere jeug.

In ’n onderhoud met die Herout vertel die vriendelike Margot van dít wat haar inspireer, die herinneringe wat sy koester en haar planne vir die toekoms:

Wanneer het jy begin sing?

Ek kan nie regtig onthou nie. Al wat ek weet, is dat my suster, Grethe, my van kleins af geleer het - wel, só sê sy. Maar ek het van laerskooldae af in die koor gesing tot en met hoërskool. So ek het beslis vanaf ’n baie jong ouderdom al begin sing.

Wat was die inspirasie vir Tydelike Afleiding?

Ek het ’n Taylor Swift-oomblik gehad en inspirasie van ’n liefdesteleurstelling getrek.

Kan ons ’n album met nog liedjies in die nabye toekoms verwag?

Definitief. Ek sien so uit om na 3 jaar se fokus op studies, aandag aan my musiekloopbaan te gee.

Wat het jy studeer en in wat lê nou voor?

Ek het mode-ontwerp by FEDISA in die Kaap geswot. Vir my eerste jaar in die “grootmens-wêreld” sal ek graag eers ’n bietjie aandag aan musiek wil gee, om dinge aan die gang te kry. Ek soek ook tans werk.

Hoe sou jy jou persoonlike styl beskryf en wat is jou “klerekas-noodsaaklikhede”?

My persoonlike styl is vir my tussen funky en deftig-elegant. Dis definitief ’n baie, baie groot verskeidenheid, maar ek dink nie ’n mens kan dit beter beskryf nie.

Ek is mal daroor om mooi aan te trek. Op die oomblik is my klerekas-noodsaaklikhede ’n gerieflike lang sonrokkie wat ’n mens maklik kan aangooi en met goue juweliersware kan style. Of vir uitgaan sal ek ’n lang, swart denim met my wit platformtekkies, goue juweliersware en ’n roomkleurige hempie by my wit-en-swart hondstootbaadjie dra.

Jy sing Survivor South Africa se nuwe temalied. Hoe het jy dit ervaar om vir die televisieprogram te sing en watter proses volg jy en Loki wanneer julle saamwerk?

Wel, daar is nie regtig ’n proses wat ek en my broer volg wanneer ons saamwerk nie. Dis meer van ’n Whatsapp wat vir my sê: “Wil jy hierdie werk kom doen? Kry my 14:00 by my huis,” en dan ry ek deur na my broer toe en ons begin met opnames. Ek het al van kleins af saam met hom geleer hoe om in die ateljee op te neem, so ons werk lekker vinnig saam.

Ek is so dankbaar vir die geleentheid om die temalied van Survivor te kan sing. Dit was maar Loki wat die musiek behartig het en hy het gevoel ek sal die beste by die werk pas.

Raak jy soms nostalgies oor DF? Wat is jou gunsteling DF-herinneringe?

My tyd in DF was vir my baie kosbaar en ek het my lewenslange vriende daar gemaak. My gunsteling-herinnering van DF is my koor- en glee-dae en die koortoere. Asook die drama- en Engelse klas. Natuurlik is al die groot geleenthede soos MTBS, somerbal en die revue beslis dinge wat ek vir ewig sal onthou.

Watter boodskap of lewensraad sou jy vir die Herout se lesers wil gee?

Lewensraad wat ek graag wil gee is om eerlikwaar jou uniekheid ten volle en te alle tye te vier. Ek sien so baie mense wat vir lank so hard probeer om net in te pas en dan in die crowd verlore raak, terwyl hul uniekheid ’n lig in soveel mense se lewens bring.

Ek wens dat mense hul waarde in die wêreld vinniger raak sal kan sien en meer in hulself sal glo. Elkeen het ’n plekkie in die wêreld. Vind dit en vestig jouself.

En glo dat jy daar hoort.