Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Netflix
- lesers
★★★

Is jy opsoek na ’n aanvulling om die leemte in jou liefdeslewe op Valentynsdag te vul? This Little Love of Mine is dan die fliek vir jou.

Die Romantiese Komedie gaan oor ’n suksesvolle prokureur, Laura Price (Saskia Hampele) wat terug na haar grootword-eiland, Cove Island, keur met die doel om Chip (Liam McIntrye) te oorreed om sy oupa se multi-miljoen dollar-maatskappy oor te neem. Alhoewel Chip en Laura saam groot geword het, is die uitdaging moeiliker as wat sy verwag het. Die Christine Luby-film bevat onverwagse draaie en moeilike besluite wat geneem word…

Die film het defintief ’n cliché element (die hoofkarakter wat aanvanklik vertoon asof sy haar lewe uitgesorteer het en gelukkig verloof is, maar deur die verloop van die verhaal besef dit is eintlik glad nie wat sy wil hê nie), maar is dit nie die einde van die dag wat ons almal soek as ons ’n romantiese komedie wil kyk nie?

Hierdie verhaal is vir my die definisie van ligte vermaak. Die storie skep nie ’n groot, spanningsvolle atmosfeer nie, maar eerder nuuskierigheid vir hoe die storie gaan verloop en alles uiteindelik gaan ontvou.

Die storielyn bevat ook tipiese kenmerke van ’n romantiese komedie. Die hoofkarakter wat duidelik met haar ridder op die wit perd hoort, word herhaaldelik met struikelblokke wat haar van haar ridder weghou, gekonfronteer. Dit is egter hierdie elemente wat afwagting skep en wanneer die hoofkarakter uiteindelik by haar “ridder” uitkom, is dit die oomblik waar die kyker se tone omkrul van blydskap en bevrediging.

Die fliek speel in San Francisco en op Cove Island af, maar is eintlik in Queensland, Australië, verfilm. Die milieu is asemrowend en skep die see-vakansie gevoel waarna almal reeds in hierdie tyd van die jaar smag.

This Little Love of Mine is die perfekte fliek vir ’n lui-lekker aand, met ’n bak springmielies in die hand en ’n gemoed wat opgekukker moet word. Ek sal definitief die fliek aanbeveel vir enigiemand wat in die Valentyns-gees wil kom of net lus is vir ligte vermaak.