Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Hoërskool DF Malan
- lesers

Ons begin die nuwe skooljaar met ’n gesprek met Tala Wiese en Henry Bothwell, DF-hoofleiers van 2022. Hulle deel hul doelwitte en ’n spesiale boodskap aan hul mede-Dee-Effers.

Wat is julle doelwit vir 2022 vir DF Malan?

Tala: My grootste doelwit vir 2022 is dat elke graadagt-leerling teen die einde van die eerste kwartaal sal voel dat hulle volwaardige Dee-Effers is en ’n plek in die skool het. My tweede doelwit is dat ons genoeg projekte sal aanpak en dat ons skool weer soos ’n eenheid sal voel!

Henry: Ek wil graag hê dat die samehorigheid onder die verskillende grade verbeter.

Watter projekte het die SR in die pyplyn vir 2022?

Tala: Die SR het baie projekte - ou projekte wat tradisies is wat hulle natuurlik weer gaan aanpak, sowel as baie nuwe projekte soos die graadagts se verwelkoming, verkoop- en insamelprojekte, maar die res gaan ek nie nou al verklap nie!

Henry: Daar is te veel om te noem, maar die buddy-stelsel word hierdie jaar ’n bietjie anders gedoen. Ek is baie opgewonde om te sien hoe dit gaan uitdraai. Die trots-komitee het ook ’n klomp projekte in die pyplyn waaroor ek baie opgewonde is!

Som jouself in 3 woorde op.

Tala: Gedrewe, kreatief en toegewyd.

Henry: Hardwerkend, logies en realisties.

Wat kyk jy op die oomblik op Netflix?

Tala: Ek kyk op die oomblik Emily in Paris. Enige nuwe voorstelle is baie welkom!

Henry: Ek kyk nie baie Netflix nie, maar ek geniet die Rotten-reeks.

Wat is jou missie vir die jaar?

Tala: My missie vanjaar is om aan die einde van 2022 terug te kyk en te kan sien dat ons SR ’n verskil gemaak het en ’n fondasie gelê het vir die volgende SR om op te bou.

Henry: Ek hou daarvan om goed dag-vir-dag te vat en as ek elke aand kan terugkyk en sê dat ek iemand se dag beter gemaak het, sal ek baie tevrede wees.

Wat is jou wens vir DF-leerders en -onderwysers?

Tala: My wens vir elke leerder en onderwyser is dat hulle hierdie jaar hulle persoonlike doelwitte sal bereik en dat dit ’n waardevolle jaar sal wees.

Henry: My wens is dat alle leerders die gesag van onderwysers respekteer.

Wat is jou boodskap aan ’n graad sewe-leerder wat DF se opedag bywoon?

Tala: As ek nou in graad sewe was, is daar twee stukkies raad wat ek sou wil hê iemand vir my moes gee voordat ek my hoërskool-loopbaan aanpak. Die eerste ding sal wees: gryp elke geleentheid aan - veral in die junior fase - wees betrokke, neem deel en kyk waar jy inpas. Die tweede een is ’n bietjie cliché, maar geniet elke oomblik! Geniet elke oomblik van gees en vriendskappe bou, want geen vyf jaar gaan so vinnig soos jou hoërskoolloopbaan verby nie.

Henry: Ek sal vir hom of haar sê dat almal ’n plek in DF het en dat hulle nie spyt sal wees dat hulle in DF is nie.