Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Frans Vergeest
- lesers

Ons sien hom voor in die saal sit. Ons sien hom deur die gange stap. Ons sien hom speel op die krieketveld. Maar wie is ons hoofseun, Henry Bothwell, regtig? In hierdie onderhoud leer ken ons hom beter.

Wat maak DF Malan vir jou die beste skool?

Een skool is nie die beste skool nie. Dis moeilik om dit te sê. Dit hang af wat jy in ’n skool soek, maar DF bied vir soveel kinders íets, en dis hoekom dit ’n fantastiese skool is. DF is nie net ’n skool vir ’n klein groepie mense nie, maar vir ’n breë spektrum van mense. Dit is regtig hoekom DF ’n wonderlike skool is!

Wie inspireer jou by die skool?

Definitief meneer Dippenaar, sonder om vyf sekondes daaroor te dink! Hy is ’n voorbeeld van ’n wonderlike Christen en die Here word so mooi deur hom uitgebeeld. Ek is mal oor sy styl van onderwys en ek dink hy het ’n baie mooi manier om met mense om te gaan.

Wat is jou hoofreël vir oorlewing in die hoërskool?

Dit mag dalk ’n bietjie teen die normale antwoord gaan, maar doen soveel as wat jy kan! Hoe meer jy betrokke raak, hoe dieper vestig jy jou wortels in die skool. Baie mense sê hulle het nie tyd nie, maar wanneer jy gaan kyk hoe hulle hul tyd bestuur, is daar ruimte vir verbetering. Ek glo jy kan meer doen as wat jy dink, sonder om iets soos jou akademie prys te gee.

Wat wil jy graag gaan doen na hoërskool?

Ek het soort van ’n kyk-waar-die-wind-my-waai-mentaliteit wanneer dit by sekere goed kom. Tans is ek redelik seker oor ingenieurswese. Ek dink ek sal ’n siviele ingenieur wil word. Ek hou van die wetenskap en my oom is ook ’n siviele ingenieur. Ek het meer blootstelling aan daardie veld by ’n waterkompetisie, wat deur UCT se siviele ingenieursdepartement aangebied is, gekry. Dit lyk darem soos iets waarmee ek my vir ten minste 40 jaar sal kan bemoei!

Wat wil jy binne vyf jaar bereik?

Ek wil nie iets spesifiek binne vyf jaar klaar of gedoen hê nie. Ek dink ek wil oor vyf jaar tevrede wees met waar ek is. En so is dit vir enige tydperk van nou af. Niks moet gedwonge voel nie. Ek wil net gelukkig wees oor waar ek is en wat ek doen.

Wat is jou grootste passie?

Enige sport! Bergfiets, draf, golf, krieket, tennis, hokkie… Ek hou van buite wees. Ek lees ’n klein bietjie. Op die oomblik lees ek Around Africa on My Bicycle en Fifty Reasons Why Jesus Came to Die. Ek lees dit nie baie vinnig nie en ook nie genoeg nie, maar ek lees… Ek moet ook sê, een van my passies is mense. Ek is lief vir mense!

Vinnige Vrae

Gunstelingfliek?

The Shawshank Redemption.

Go-to bestelling by die Koffieblik?

Ek is eintlik ’n Engelse Tee-outjie, maar ek sal sê cappuccino*.*

Wat was jou bynaam in graad agt?

Mangel (soos in die ding wat agter in jou keel sit).

Wie was jou SR-crush toe jy ’n graadaggie was?

Lea de Bruijn.

Dit of dat:

Bosveld of strand?

Bosveld.

Roomys in ’n koppie of ’n horinkie?

In ’n koppie.

Golf of krieket?

Ek gaan sê golf… maar moenie dit vir meneer Mells sê nie!

Winter of somer?

Bellville Golfbaan se dreinering is regtig sleg, so ek gaan somer sê!