Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Emma Olivier
- lesers

Die not like other girls-verskynsel is een wat orals in vandag se media, alledaagse lewe en selfs memes gesien kan word. Dit is ’n misoginistiese denkwyse (ander gewone vroue word gehaat) waar die individu haarself definieer as “uniek”, omdat sy nie van stereotipies vroulike aktiwiteite en kenmerke hou nie.

Hierdie verskynsel is gevaarlik. Dit leer jong meisies dat individualiteit meer belangrik is as hul eie ekspressies. Vrouens kritiseer ander vrouens om hulself meer aantreklik vir die teenoorstaande geslag te maak. Dit kan gedefinieer word as geïnternaliseerde vrouehaat.

Ongelukkig word hierdie verskynsel dikwels in media geadverteer. Die hoofkarakter van talle tienerfilms word gereeld uitgebeeld as ’n tomboy wat nie maklik oor die weg kom met ander meisies nie, omdat sy te anders is. Die “unieke” karakter hou nie van grimering of klere koop nie. Sy is “een van die seuns”. Die skurk van die verhaal wat die hoofkarakter se geliefde probeer steel en die “unieke” karakter boelie, is dikwels baie stereotipies vroulik. Sy word uitgebeeld as katterig en dramaties. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die gewilde fliek Mean Girls.

Hierdie verskynsel word ook in die musiekwêreld gesien; ’n Redelike ou, maar steeds relevante, voorbeeld hiervan is die Taylor Swift-liedjie, You belong with me, se musiekvideo. Die lied vertel die verhaal van ’n slimkop wat op haar buurman verlief is. Die hoofkarakter (Taylor) is ’n intelligente hoërskoolleerder wat nie by die res van die meisies inpas nie. Haar buurman gaan met die tradisionele “mean girl” uit. In die lied vergelyk Taylor haarself met hierdie meisie (She wears high heels, I wear sneakers!). Uiteindelik wen Taylor die seun se hart.

Wat hierdie figure so aanloklik maak, is die mensdom se konstante strewe na individualisme. Die ironie hiervan is dat, terwyl hulle probeer uitstaan, almal op ’n eenderse wyse uniek probeer wees, wat lei tot almal wat dieselfde is. Dit wil sê, die wat “soos ander meisies” is, is die uniekste van almal.

Die I’m not like other girls-verskynsel kan lei tot meisies wat karikature van hulself maak in ’n poging om te probeer uitstaan. Meisies behoort nie te voel asof hulle die vroulike geslag agterhou as hulle tipiese vroulike belangstellings het nie. Ten spyte van stereotipiese uitbeeldings in die media, is jy nie ’n mean girl as jy baie grimering en pienk klere dra nie.

Alle meisies is “nie soos ander meisies nie”.