Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Anri Brand
- lesers

Wie is jy? Hoe stel jy jouself aan mense voor?

Elke mens is uniek. Dit weet ons almal. Daar is soveel fasette van ons menswees. Kom leer meer oor ons mense en ontdek net hoe divers ons almal is en wat ’n mens maak.

Een van die eerste dinge wat ’n mens oplet is haar- en oogkleur. Die natuurlike haarkleur wat die meeste voorkom, is swart of donkerbruin (75-84%). Volgende is ligbruin (11%), blond (3%) en rooi (2%). My en iemand anders se haarkleur is dalk altwee blond, maar dit bly wonderlik dat geen blonde hare presies dieselfde lyk nie.

Byna 16 verskillende gene speel ’n rol as dit kom by die samestelling van jou oogkleur. Omtrent 75% van mense het die dominanste kleur oë, bruin. Hierdie 75% het ’n kleiner kans om oogverwante siektes op te doen. Daarna volg blou oë (omtrent 10%). Blou oë is ook baie meer ligsensitief, omdat dit ’n ligte kleur is. Daar is selfs - in baie skaars gevalle - mense met twee verskillende kleure oë en duisende met ’n mengsel van al die kleure. (Dis meer skaars om mense te kry met een suiwer kleur oë.)

Daar is omtrent 27 menslike emosies. Hartseer, kwaad, geluk en vrees is van die algemeenste. ’n Paar wat baie van ons dikwels ervaar, is verveeldheid, bewondering, angs, deurmekaarheid, tevredenheid en nuuskierigheid. Emosies maak ons wie ons is, want geen persoon beleef of reageer op emosies op dieselfde manier as ’n ander nie. Dalk vind jy klassieke musiek vervelig, maar ander vind dit kalmerend en rustig.

Het jy al ooit by ’n partytjie ingestap waar daar net vreemdelinge is?

Ysbrekers verlig gewoonlik die ongemaklikheid. Elkeen van ons het daardie storie wat in ons verlede gebeur het wat enigiemand sal laat lag. Aan die ander kant is daar altyd daardie een persoon wat almal sal laat lag, al is sy grappies regtig nie snaaks nie. Ons stories en ervarings is eie aan onsself. Niemand het dieselfde beleef as ’n ander nie. Ons leer ’n persoon goed ken deur wat in sy verlede gebeur het en dit wat hy vermaaklik vind.

Een vraag wat jy altyd sal hoor, is: “Is jy ’n hond- of ’n kat-mens?”

Wel, omtrent 3 miljoen van die bevolking is hond-mense en byna ’n miljoen is kat-mense. Dan is daar ook mense wat lief is vir hul kamerade met skubbe en ander vir hul geveerde vriende. Of mense van diere hou of nie, diere is só deel van ons se menswees dat baie van ons sal bieg ons kan nie sonder ons vierbeen-vriend lewe nie.

Elkeen van ons het ons eie stokperdjie.

Al is dit net om te slaap.

Mense kan ure gesels oor hul stokperdjies. Mense het vreemde stokperdjies, soos newsraiding. Sulke mense probeer alles in hul vermoë om in die agtergrond van enige televisieprogram te verskyn. Dit is tog algemeen om ’n skaaphond ’n groep skape te sien aanjaag? Maar het jy geweet dit is party mense se stokperdjie om eende aan te jaag asof hulle skaaphonde is? Daar is selfs mense wat verskillende elemente van die periodieke tabel versamel!

Soveel soos die sandkorrels op die strand, só’n groot verskeidenheid kombinasies van mense is daar. Kyk ’n bietjie of jy nog interessante feite van jou vriende kan ontdek. Dalk leer jy iets wat jy nooit sou kon raai nie.