Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Verskaf deur die Hoërskool DF Malan
- lesers

Meneer Gert Visser is een van die onderwysers wat die langste by DF skool betrokke is. In ’n eksklusiewe Herout-onderhoud, leer ek dat hy eintlik baie vriendelik is wanneer jy met hom gesels. Al glimlag hy nie veel nie en gebruik woorde wat amper nie meer in woordeboeke bestaan nie, is daar nie te veel redes om hom te vrees nie.

Goeiemiddag, Meneer. Geniet Meneer die vakansie sover?

Ek het ’n lekker en interessante vakansie agter die rug en beplan om die laaste 4 dae voluit te gaan.

Wat het Meneer gedurende die vakansie gedoen en is daar enige interessante of vreemde dinge wat met Meneer gebeur het?

My vakansie was vol onverwagte opwindende dinge.

Ek is na Pretoria waar die regering versoek het dat ek leiding neem by ’n kommissie van ondersoek oor die Geskiedenis-sillabus en al die moontlike onwaarhede wat daar verkondig word. Gedurende die twee weke in die vreemde, moes ek ’n selfverdedigingskursus volg en my skerpskuttervermoë opknap - die nuwe sillabus gaan die poppe laat dans.

Daarna is ek vinnig Engeland toe, omdat vriende van my in Wessex probleme opgetel het wat net ek vir hulle kon oplos. Ek het nogal belangrik gevoel, amper soos Uhtred van The last Kingdom.

Ek het die afgelope tyd ’n tapisserie van ’n Van Gogh-skildery voltooi en vir ’n ouetehuis gegee. Hulle het onmiddellik aangedring dat ek nog een moet maak en nou is ek besig met Die laaste Avondmaal van Leonardo da Vinci.

Ek beskou myself as ’n vetplantkenner en ek het verskillende nuwe spesies vir my tuin aangekoop (maar ek ontken ten sterkste dat ek van hulle uit die buurt se tuine gesteel het!).

Verder het ek gewone dinge gedoen: gestap, gimnasium toe gegaan, gekla oor die harde musiek daar, baie met gewigte geoefen en veral gekyk hoe vet mense probeer maer word!

Laastens is daar die orrel op Sondae, Kersdag en Nuwejaar. Ek het ook vir ’n paar begrafnisse orrel gespeel: die een se dood is die ander se brood. En ek is ’n professionele broodeter.

Wat is die moeras van onkunde en hoe kan ’n mens daaruit ontsnap?

Niemand kan hulle posisie in die moeras van onkunde wegsteek nie. Jy word verklap deur jou taalvermoë.

Die intelligensia van die aarde kan spel. Hulle praat hul taal - Engels, Afrikaans of Grieks - suiwer en hulle praat nie in verkleinwoordjies nie. Daar is slegs een manier om uit die moeras te ontsnap: LEES.

Met watter boek is Meneer nou besig en waaroor gaan dit?

Ek lees Maestro van Hester Heese. Dit gaan oor die argitek, beeldhouer, kunstenaar Gianlorenze Bernini – nee, dis nie die drankie nie: moeras van onkunde! Dit het my gedwing om weer boeke oor Michelangelo en Da Vinci te lees. The last Leonardo van Ben Lewis is een van die bestes. Ek het my hand aan Martin Steyn se Losprys gewaag. Ek het deurgedruk, maar moes op my tande kners.

Omdat daar die afgelope tyd van Josephine Buonaparte se juwele verkoop is, het ek gou ’n biografie van haar gelees - en heelwat van Napoleon se briewe aan haar gesien. Toe lees ek verder aan Famous Love Letters, saamgestel deur Ronald Tamplin. Dit het my laat gryp na The Cardinals Man, wat weer afspeel in Frankryk tydens Richelieu se leeftyd.

Is daar ’n skrywer wie se werk Meneer meer verkies om te lees? Hoekom sê Meneer so?

André P Brink is na my mening die beste. Ek het veral gehou van Houd-den-bek. Hy het die taal onder die knie en kan enige leser meesleur met sy meesterlike woordgebruik, inuendo’s en openbaringe oor die ware werklikheid. Die meeste van sy boeke is eers verban!

Wie is Meneer se gunsteling-digter en kan Meneer ’n voorbeeld gee van ’n gedig wat hy/sy geskryf het?

Die bestes is NP van Wyk Louw (dink maar aan Raka) en Opperman (Periandros van Korinthe). Maar Lina Spies is my gunsteling. Gaan lees maar: Ek was die gans goddelike dag alleen / contradictio in terminus / want God was nie teenwoordig nie.

Het Meneer na enige musiek in die vakansie geluister?

Ek luister permanent na musiek - veral as ek in die gimnasuim probeer ontsnap van hulle walglike harde musiek. Gelukkig het ek lieflike oorfone.

Na watter musiek het Meneer die meeste geluister?

Ek luister hoofsaaklik opera.

Is daar enige interessante stories oor Meneer se eie skooldae?

Ek moes hoofseun wees, maar ek het net een stem gekry! My eie.

Ek was ook in ’n weeshuisskool, maar net diegene wat by my klas het, weet van daardie stories!

Wat het Meneer laat besluit om ’n onderwyser by DF te word?

Dis maklik. DF was in 1985 die beste skool in die land. Ek wou saamwerk om DF nog beter te maak. Ek was ook nog nie een dag spyt nie. DF is steeds die beste skool in die land. Sommige mense sou van my wou verskil, maar wat maak jy met moerasbewoners!

Hoe lank werk meneer al by die skool?

Sedert 1985. As jy die ure van die Blaasorkes en die MTBS bytel, is dit amper 50 jaar.

Wat is Meneer se onvergeetlikste oomblik in Meneer se loopbaan by die skool?

Daar was twee groot oomblikke wat my bybly: die Blaasorkestoer na Europa en daardie jaar se orkeskompetisie in SA wat DF gewen het. Tweedens die MTBS-oorwinning toe ons met Magic so ver gewen het dat dit gelyk het of die ander skole nie eers deelgeneem het nie. (Vra maar vir juffrou Lurina Etsebeth!)

Meneer is al baie jare by die skool. Watter raad sal Meneer vir die jonger en nuwe onderwysers gee?

Moenie bang wees nie: nie vir die kinders of hulle ouers nie.

Almal ken Meneer as die strengste onderwyser by die skool. Is daar ’n spesifieke rede waarom dit so is?

Dit gaan oor reputasie. Ek self het die storie jare gelede begin en die senior raad het daarmee gehelp deur vir die beginners te sê hulle moet bid om nooit met my paaie te kruis nie. Dit maak die skool ’n veilige plek vir my.

Is daar enige wenke wat Meneer vir die leerders wat sukkel om hulle punte te verbeter, kan gee?

Hulle moet lees. Lees die koerant, lees die Bybel, lees storieboeke, lees tydskrifte, lees, lees, lees.

Baie dankie vir Meneer se tyd en antwoorde (ook vir die regstelling van my taal en punktuasie gedurende die onderhoud).