Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Netflix
- lesers
★★★★

Op 27 Mei het Netflix die eerste sewe episodes van die gewilde Stranger Things se vierde reeks vrygestel. Die Herout het slegs positiewe dinge oor hierdie innoverende nuwe hoofstuk van die Duffer-broers (skrywers en regisseurs) se meesterstuk te sê.

Die nuwe reeks is anders as die vorige drie reekse omdat kykers hierdie keer meer leidrade as ooit voorheen ontvang.

Die reeks se hoofkarakters word weer met monsters van die vreemde Upside Down-wêreld gekonfronteer. Hulle nuutste bedreiging is egter meer sinister as hul vorige vyande. Die groep vriende moet saamstaan om die raaisel van die nuwe gevaar op te los.

Hierdie reeks is net so visueel treffend soos die vorige drie. Die prettige 1980’s-kostumering, kreatiewe beligting en heimweevolle klankbaan (met ou bekendes soos Kate Bush se Running Up That Hill) sal kykers by die kleurvolle wêreld van Stranger Things intrek.

Die reeks se geliefkoosde karakters word weereens deur van die mees talentvolle akteurs en aktrises ter wêreld vertolk. Emmy-genomineerde Millie Bobby Brown, Fin Wolfhard, Caleb McLaughlin, Golden Globe-wenner Winona Ryder, David Harbour, Joe Keery en nuweling in die reeks, Joseph Quinn, onder andere, lewer almal boeiende en emosionele optredes. Sommige tonele is so roerend en oortuigend vertolk, dat dit selfs die kousdte kyker sal laat tjank.

Die spanning word stadig opgebou en neem met elke episode net toe. Die briljante storielyn grens aan geniáál – nee, dit het die grens van geniaal vér agtegelaat: Dit is grensverskuiwend. Die innoverende skryfwerk van hierdie pragstuk gebruik klassieke storievertellingstegnieke (soos die altyd-opwindende skurkmonoloog) om ’n nuwe, maar nostalgiese skepping voort te bring.

Stranger Things is definitief met rede hierdie jaar deur Stacker aangewys as die 26ste beste televisieprogram van alle tye (hierdie joernalis dink natuurlik dit behoort nommer een op almal se liefdeslysie te wees, maar dit daar gelaat). As jy nog nie Stranger Things gaan kyk het nie, mis jy uit. Dan kry ek jou uit die diepte van my Stranger Things 4-besete hart jammer.

’n Groot verassing waaroor niemand óóit sou kon raai nie, wag aan die einde van episode sewe. Kykers word met prikkelende vrae agtergelaat wat die afwagting vir die tweede deel net meer verhoog.

Hierdie reeks beïndruk werklik. Ek sal selfs so ver gaan as om te sê dat dit onoortreflik is, maar ek weet dit is nie waar nie, want Stranger Things raak met elke reeks net meer en meer indrukwekkend en ek weet dat die volgende deel van die reeks alle verwagtinge wéér sal oortref.

Die volgende deel van die vierde reeks word op 1 Julie vrygestel. Ons wag in spanning!

(Wees bewus daarvan dat Stranger Things bloederige tonele en onderwerpe soos trauma insluit, wat dalk vir sensitiewe kykers ontstellend kan wees.)