Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Columbia Studios
- lesers

Harry Styles het sy musiekberoep in 2010 begin toe hy deel was van One Direction, een van die grootste musiekgroepe ter wêreld. Na die groep se onbepaalde hiatus in 2016, het Styles in dieselfde jaar sy solo-loopbaan begin en in 2017 sy debuut-enkelsnit, Sign of the Times, vrygestel.

Sign of the Times het hy verskeie ander geliefkoosde treffers soos Golden, Adore You en Watermelon Sugar vrygestel. In sy vorige twee albums, Harry Styles en Fine Line, het hy sy eie klank ontwikkel en sy luisteraars met ’n prettige pop-rock-klank betower.

Styles verlaat nou sy Fine Line-era. Aanhangers het op 20 Mei 2022 sy nuwe album, Harry’s House, met liefde en opgewondenheid verwelkom.

Op 23 Maart het Styles die album se naam bekendgestel (wat natuurlik sy aanhangers absoluut met afwagting laat borrel het). Dit was selfs nog meer opwindend toe hy ’n nuwe Twitter-rekening geskep het, spesiaal om leidrade te oor Harry’s House-liedjies se lirieke te deel. Op 1 April het Styles een liedjie as ’n voorsmakie van Harry’s House vrygestel. As It Was het binne slegs ’n paar uur stroom-rekords gebreek.

Dit het glad nie lank gevat vir die wêreld om op hierdie een liedjie verlief te raak nie, maar dit was net die begin.

Styles se aanhangers het al vir maande geweet dat hy by Coachella sou optree, maar het glad nie verwag dat hy twee splinternuwe liedjies van Harry’s House (Late Night Talking en Boyfriends) sou sing nie.

Nou is Harry’s House uiteindelik hier.

Die eerste keer toe ek na die fantastiese nuwe liedjies geluister het, was dit regtig ’n asemrowende ervaring. ’n Paar liedjies het my selfs ’n traan of twee laat stort.

Styles is duidelik trots en passievol oor sy werk.

Hy is ook duidelik meer oop en kwesbaar in hierdie album. Die albumfoto van Styles wat op sy plafon staan met meubels wat onderstebo “hang”, stel dalk voor dat Harry’s House ’n musikale verkenning van die idee van ’n tuiste kan wees (en soms is ’n tuiste nie net ’n fisieke plek nie, maar ’n plek opgebou uit ervarings, gedagtes en verhoudings).

Harry’s House skep ’n neon, nostalgiese gevoel met variasie tussen peinsende pop-rock en sagte disco-invloede (veral hoorbaar in Music for a Sushi Restaurant en Late Night Talking). Die album se goedvoel-somerklank en intieme, soms melankoliese lirieke (soos in Grapejuice en As It Was) skep die perfekte balans tussen hoor en voel - ’n goeie resep vir ’n album om nog lank te kan lewe.

Die betekenis agter Styles se lirieke hou moontlik verband met sy vorige rol in One Direction en met sy familie en vriende. Die album bespreek ook temas soos sensualiteit, familietrauma en verandering.

Styles se aanhangers sal seker van mening verskil as hulle Harry’s House met sy vorige albums sou moet vergelyk. Harry’s House bou op Harry Styles en Fine Line, maar het definitief groot musikale impak in sy eie reg.

Harry’s House is nou op stroomplatforms beskikbaar. Gaan luister as jy ’n aanhanger is, of net lus is vir ’n pragtige versameling liedjies wat jy by enige geleentheid kan geniet!

Apple Music | Spotify | Youtube Music