Deesdae is dit so moeilik om te onderskei of ’n “ontwerpersitem” ’n nagemaakte een is of nie - soveel so dat kenners soms die nagemaakte produk tot in die fynste detail moet bestudeer. Hoekom sal mense dan outentieke ontwerpersprodukte koop, as daar goedkoper produkte wat byna presies dieselfde lyk, op die mark is?
’n Hele industrie wentel om die vervalsing van ontwerpersitems.
Baie ontwerpersitems, soos dié van Chanel of Louis Vuitton, het handgemaakte details wat nie deur fabrieke gekopieer kan word nie. Vervalsde items word intussen in massas in fabrieke vervaardig.
Die ondernemings wat hierdie produkte vervaardig, soek gereeld vir plekke waar hulle kostes kan sny. Dit sluit soms die afskeping van gesondheidsregulasies en veiligheid van werkers, sowel as die gebruik van swak-kwaliteit materiaal in. Hierdie tipe materiaal het ook (net soos in die fast fashion-industrie) ’n negatiewe impak op die omgewing. Materiaal van polyester kan, byvoorbeeld, tot 100 jaar neem om te ontbind. Tydens die proses van ontbinding stel dit ook gevaarlike toksienes vry.
Vervalsde produkte is ook diefstal van intellektuele eiendom en kan volgens wet gestraf word.
Laastens is die hele punt van belegging in ontwerpersitems dat die produkte luukshede is wat veronderstel is om lank te hou. Ware ontwerpersitems het stewige, dubbelgestikte nate. Hierdie produkte sal ook nie skeef gestik wees nie en die materiaal vergaan nie gou nie.
As ’n mens vervalste ontwerpersitems wil koop, is dit dalk ’n goeie idee om jouself te vra waarom jy dit wil hê. As jy dit begeer omdat die handelsmerk lank sal hou of duursaam is, is dit die moeite werd om te spaar en in die ware Jakob te belê, eerder as om ’n skadelike industrie te ondersteun.