Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Emma Olivier
- lesers

Let daarop dat hierdie artikel nie mediese raad bevat nie en dat dit nie die doel van die artikel is om die gebruik van enige middels aan te beveel nie.

Hoekom is mense so geneig om vreemde sampioene te vermy?

Sampioene en paddastoele is die liggaam van ’n fungi wat verantwoordelik is vir spoorvrystelling en dus voortplanting.

Die tipes fungi-spesies is eindeloos en die voorkoms van hulle sampioene is divers. Sampioene kan reënboogkleure hê met vreemde vorms en strukture wat aangepas is om predatore af te skrik. Daar is ongeveer 50 000 verskillende sampioenspesies, waarvan slegs 70 giftig is. Die res is almal eetbaar, maar slegs ’n klein hoeveelheid proe smaaklik. Baie tipes sampioene kan wonders doen vir die gesondheid van insekte, mense en die omgewing.

Daar bestaan ook magiese sampioene wat ’n spesiale stof met die naam Psilocybin bevat. Hierdie stof het groot chaos tydens die 1969-Woodstock-musiekfees in Amerika veroorsaak weens die verkeerdelike gebruik van psigedeliese sampioene as dwelms. Talle lande het daarna, in 1970, die besit van psigedeliese sampioene en die inname van Psilocybin verbied. Wetenskaplikes en dokters het onlangs weer belangstelling in die navorsing en gebruik van hierdie vreemde stof begin toon.

’n Psigedeliese ervaring is uniek tot elke individu, maar word beskyf as ’n herstel-knoppie vir die psige. Psilocybin is voor 1970 reeds gebruik in psigiatrie vir die behandeling van alkoholisme en dwelmverslawing. Moderne navorsing toon dat Psilocybin ’n effektiewe behandeling vir psigiatriese toestande soos depressie, angs en posttraumatiese stresversteuring kan wees. Die gebruik van hierdie middel in psigiatrie begin tans toeneem.

Die tipiese behandeling sluit drie of vier pille in tydens ’n sessie waar die psigedeliese ervaring onder toesig in ’n kamer vry van stimuli plaasvind.

Die behandeling van depressie met Psilocybin word as meer doeltreffend gesien in vergelyking met standaard-antidepressante. ’n Enkele dosis kan maande lank effektief wees. Talle dokters begin druk dat magiese sampioene weer in die mediese bedryf toegelaat kan word.

Wie sou kon dink ’n paddastoel kan ons toekoms verander?