Diep blou see
Hannah de Wet
Daar is iets baie nederig
aan die diep blou see,
aan die gesoute seelug
wat reuk en smaak kan domineer.
Die druisende waters wat skommel en smeul
teen geharde rots en klip.
Wonder waters wat geduldig,
met weumelhand, kerf en smee
aan die Aarde se edelsteen,
geset tussen aard en land.
God's geskape waters,
die geheime van tyd verdrink daarin.
Soggens spook sy slagoffers
terwyl hul geeste skuil in die misbanke
wat hul stemme op dra, teen die kus,
en vee oor die plat strand.
’n Skoon wit doek gewas.
Die diep blou see.
In hom lê skatte versink
wat verhale van lank lank gelede
verbloem in sy duister dieptes.
Seerowers en diepsee-gediertes.
Kragtige storms en
wolkkrabbende branders.
Die see is ’n wese met ’n wete
en kragtige wil.
Hy sal tyd se stoot en trek waarneem
terwyl hy met ’n kalm seewind sug.
Tog is daar ’n nederigheid
aan die diep blou see...
’n Wederkoms
Hannah de Wet
My oë loer oor die horison,
donkerte wroemel op die rand
van my sig.
Die warm warrelwind seil
deur die boomtoppe
en die stil strate.
Ek voel die natuur sug.
Die geruislose hartseer
wat in my siel in sink.
Die reën kom.
Die wolke worstel vir ’n pad deur die
hemellug,
bring ’n kil koud,
’n verlossing.
Ek lig my ken en kyk
na die sagte samekoms daar bo.
Wat bring die weer
vandag vir my?
die meerkoningin i
Emma Olivier
waar die son soos dou aan die blare kleef
en watervoëls hul neste weef
waar tyd gaan staan en kinders nooi
om stukkies brood vir die visse te gooi
het twee seuns die water in
getrap op soek na die meerkoningin
van wie hul ma hul vroeër gesê het
toe hulle saam in die gras gelê het
maar die oudste een wat voor wou trap
het gegly op ’n rots en sy kop gekap
en die koperwater yster verkleur
en die jonger een het wal toe gebeur
en sy ma geroep om gou te kom kyk
maar toe sy daar kom is die boetie se lyk
weggesleep die koue in
deur die kloue van die meerkoningin