Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Instagram: @denise_ontwerp
- lesers

Onderhoude met Denise Rose (’n leerder wat ontwerp by DF neem) en Nadia van Zyl (’n leerder wat juweliersontwerp by Tygerberg Kunssentrum neem) gee ons ’n dieper kyk in die studie van ontwerp.

Hoekom het jy gekies om ontwerp te neem?

Denise: Ek is iemand wat kalmte vind wanneer ek besig is om kreatief te wees. Ek het later agtergekom dat ek ’n talent daarvoor het en kan dus ’n beroep daaruit maak. Ontwerp as vak kan vir my baie voorbereiding daarvoor gee.

Nadia: Ek het juweliersontwerp gekies, want dit bied meer vaardighede met ander soort materiale soos metaal, wat ’n mens nie by enige plek sal kan leer nie. Die meeste mense dink juweliersontwerp is om net om krale te gebruik om iets te maak, wat onwaar is. By hierdie soort ontwerp moet elkeen alles maak wat hulle vir hul juwele wil gebruik. Jy moet byvoorbeeld ’n steen vir jou ring self kan maak.

Watter tipe dinge leer julle in ontwerp?

Denise: In ons teorie leer ons oor ontwerpgeskiedenis en verskeie stylbewegings wat ’n impak op die samelewing gehad het. Ons leer byvoorbeeld oor die industriële revolusie en die Victoriaanse tydperk. In ons praktiese werk leer ons hoe om take te beplan en ons leer nuwe vaardighede, byvoorbeeld lino cutting*, die maak van klere en binnenshuise ontwerp, aan.*

Nadia: Ons leer oor ’n paar bekende ontwerpers en basiese ontwerpsbeginsels, wat help met ons praktiese take en hoe om die ontwerpe te vorm. Verder leer ons ook oor kunselemente. Ons bestudeer verskillende nuwe tegnieke vir juweliersontwerp en ons tekeninge moet presies soos ons eindprodukte lyk. Ons leer ook vaardighede met masjienerie soos om met ’n pressdrill te werk, te boor, te soldeer en te saag.

Waaroor gaan jul praktiese opdragte?

Denise: Ons opdragte verskil van kwartaal tot kwartaal. Die take leer ons hoe om verskeie dinge te doen en nuwe vaardighede aan te leer, wat ons eendag in ons gekose beroepe sal gebruik. Vir die tweede kwartaal in graad elf moes ons byvoorbeeld ’n kledingstuk geïnspireer deur die Suid-Afrikaanse kunstenaar, Irma Stern, ontwerp.

Nadia: Ons leer om met herwonne materiaal en tekstiel te werk. Ek het al ’n produk uit natuurlike materiale soos takkies en boomstompies gemaak. In ons opdragte leer ons ook om met verskillende metale soos geel- en rooikoper te werk. In van ons praktiese opdragte moet ons oorbelle en ringe self maak.

Wat was jou gunsteling-projek? Wat geniet jy die meeste van ontwerp?

Denise: Ek het verskriklik baie gehou van kwartaal drie en vier van graad tien se projekte. Ons moes ’n binnenshuise area geïnspireerd deur die filmmaker Wes Anderson, beplan en ontwerp. Die vertrek moes op ’n 40cm2 basis pas. Ek het dit geniet om miniatuur-weergawes van die items in my vertrek te maak.

Nadia: Ek hou daarvan dat ek my take by uitstallings kan uitstal. Dit is die kuns- en ontwerpuitstalling, waar al jou produkte wat jy tot graad twaalf gemaak het, uitgestal word. Die uitstalling kan ook deure vir jou oopmaak, want iemand kan jou produkte daar raaksien.

Hoe ervaar jy al die projekte wat julle aanpak?

Denise: Ek geniet dit om projekte te beplan en die produkte te maak. Dit kan soms baie oorweldigend word as jy nie jou tyd reg bestuur en aanpas volgens die spoed waarteen jy werk nie.

Nadia: Ek vind dit interessant, want dit toets my vermoëns.

Dit is ook lekker wanneer ek met ’n projek klaar is en kan sien wat ek gemaak het... om te sien ek het iets gemaak wat ek nooit gedink het ek sal kan doen nie.

Dit is vandag se kreatiewe jeug wat die toekoms kan ontwerp.