Eens op ’n tyd het ’n grapjas geom met duister motiewe gekom en vier dames se harte verower. Hy het met elkeen ’n ander masker gedra.
Hy het heel eerste die Koning van Harte se gesig gesteel, met sy oё gemik op die Ase.
Hy het sy kaarte goed gespeel.
Die vleiende woorde wat hy in haar oor gefluister het, het die pad na haar hart oopgemaak. Hy het haar betower. In ’n beswyming het sy haar hart aan hom oorhandig.
Hy het verdwyn soos die oggendmis en slegs ’n speelkaart agtergelaat as bywys van sy vlietende teenwoordigheid: die Ase van Harte.
Haar onversadigde liefde het haar agter hom aan laat trek. Sy het met ’n leemte in haar borskas nah om gesoek. Kort voor lank het sy wel die man agter haar Koning ontmasker.
Haar Koning is eintlik die Grapjas wat genot in sy spel van harte vind. Hy is ’n man wat dobbel met emosies - ’n man wat met harte speel nes ’n gesoute kaartspeler. Hy behaal oorwinning binne ’n oogwink.
Sy het op haar soektog die ander slagoffers, een vir een, langs die pad opgetel. Sy het die Ase van Ruite se trane afgevee en die A’s van Klawers en Skoppens met ’n ystergreep ondersteun. Saam het hulle mekaar gehelp genees en ’n nuwe liefde gevind. Die liefde van susters. Die Ase van Harte se hart het wel steeds krake gehad wat nooit sal herstel nie. Woede en wraak het altyd binne haar gesmeul.
Lot het dit so laat verloop dat sy vir Hom op ’n mistige aand weer kon ontmoet. Die straatlig het soos ’n kollig op hom geskyn. Hy was die towenaar en die wêreld was sy verhoog. Die Ase het geloop en voor haar valse Koning gaan staan. Sy het hom stip in die oё gekyk en gesê: “Kom, dat ons oop kaarte speel.”
Hy het skeef geglimlag terwyl hy aandsagtig na haar geluister het.
“Ek kan nie langer ’n moordkuil van my hart maak nie. Jy het my bloeiende hart in flenters gelos toe jy verdwyn het. Ek moes myself met naald en gare weer terug aan mekaar werk. Jy, die Grapjas agter my Koning, het gelag terwyl jy my hart weggedra het!”
Die Grapjas het stadig sy kop geskud en aan haar het hy gesê: “Jy is my troefkaart. In my hart van harte was jy nog altyd die een vir my.”
Die Ase van Harte het ’n speelkaart vanuit haar sak gehaal en voor sy voete laat val. Dieselfde speelkaart wat hy jare gelede agtergelaat het, fladder en gaan rus op die teer met die gesigkant na bo: die Ase van Harte.
“Ek is meer as net ’n speelkaart.”