Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Nikita le Roux
- lesers

Hierdie jaar se tienertoneelstuk, Operasie Kersfees, het ons almal lekker laat lag. Die opvoering het by die Collective Arts Theatre en Kunstekaapteater plaasgevind en kaartjies het spoedig verkoop.

DF se drama-meneer, meneer Van der Westhuizen was die regisseur van die toneelspel en hy het baie interessante inligting oor die opvoering om met Die Herout te deel.

Waar het die idee van die toneelstuk vandaan gekom?

Die stuk is deur Margo Kotze (’n oud-DF-leerder) geskryf en sy het gesȇ dat dit deur die familiestereotipes en drama wat, veral rondom Kersfeestyd, plaasvind, geïnspireer, is.

Hoe het die oudisieproses gewerk?

Die oudisies het aan die begin van die jaar plaasgevind en ongeveer negentig leerders het aan die oudisies deelgeneem.

Die oudisies verloop nie elke jaar dieselfde nie, want dit hang van die tipe toneelstuk af. Die oudisies vir ’n drama sal byvoorbeeld anders wees as ’n oudisie vir ’n komedie. Vir hierdie spesifieke toneelstuk moes die leerders ’n monoloog voordra. Die volgende dag was daar ’n call back.

Die leerders wat gekies word, hang ook van die toneelstuk af omdat dit belangrik is dat die akteurs by hulle karakters pas.

Foto: Nikita le Roux

Hoe het die repetisies verloop?

Die repetisies het al vroeg begin en ons het weekliks op Maandae en Donderdae van ses tot agt in die aktiwiteitsentrum gewerk. Ons het eers begin met die blocking (wie waar staan op die verhoog) en toe met karakterisering.

Nie almal het op dieselfde tyd geoefen nie, omdat ons aan sekere dele sou werk waar net die een helfte van die groep nodig was. Dan sou ons op ’n ander dag met die ander helfte werk totdat ons op ’n punt gekom het waar ons almal saam kon oefen.

Toe kon ons raaksien wat werk, wat werk nie en wat moes verander. Natuurlik moes die leerders hiervoor woordvas wees - daar was verskriklik baie teks wat hulle moes leer.

En dan maak ’n mens reg vir optree.

Was daar enige snaakse insidente tydens die repetisies?

Daar was baie snaakse insidente! Om vir Oupa te leer om gemaklik op ’n rolstoel te wees, het ons lekker laat lag, want hy het nog nie lekker beheer gehad nie. Mense wat op die vekeerde oomblik inkom wanneer hulle nog nie met die teks gemaklik is nie, wanneer iemand hulle woorde verkeerd gesȇ het, en toe ons nog aan die blocking gewerk het, was alles snaakse oomblikke.

Wie was deel van die tegniese span?

Frans Vergeest in matriek het die beligting en klank gedoen. Archie Louw was ons verhoogbestuurder en juffrou Baratt was ons administratiewe hoof, kreatiewe gees en bemarkingsbestuurder.

Wie was die choreograaf van die dans?

Ek dink ek het die liedjie gekies. Margo Kotze en Ingrid Klopper in graad-11 was die hoof-choreograwe, maar dit was ’n spanpoging om te kan spot met al daardie cliché-dansies wat ons ingewerk het.

Foto: Nikita le Roux

As Meneer in die toneelstuk gespeel het, watter karakter sou Meneer wou vertolk?

Dis ’n moeilike vraag, want al die karakters is pret om te speel. Ek dink elke karakter is so uniek en het stereotipes waarmee ’n mens kan spot, maar ek dink die lekkerste karakter om te speel is Oupa. Al het Oupa min teks, is daar baie wat hy sȇ deur dít wat hy nie sȇ nie.

Wat was Meneer se gunsteling-deel van die toneel?

Alles.

Dit was vir my baie lekker, want dit was ’n ongelooflike, vriendelike, respekvolle en hardwerkende groep leerders met wie ek gewerk het. Dit het die hele proses lekker gemaak. Vir my was van die snaaksste oomblikke elke keer wanneer die drieling inkom, wanneer tannie Karen vir die eerste keer inkom en vra: “Waar is my Tupperware?!” en dan natuurlik die dans aan die einde.

Wanneer is die volgende toneelstuk?

Die volgende toneelstuk is eers volgende jaar. Al wat ek daaroor kan sȇ, is: baie rooi en karton.

Dit is die enigste leidraad wat ek kan gee...