Almal het gesonde verhoudings nodig. Dit dra by tot ’n langer lewe en gesonde gewoontes. Dit produseer hormone en chemikalieë in ons breine soos dopamien (laat jou goed voel), serotonien en oksitosien.
Vandag se wêrelduitkyk maak dit vir ons moeilik om waardevolle verhoudings en vriendskappe te onderhou.
Ons het toegang tot tegnologie en sosiale media wat ons in staat stel om met meer mense, meer gereeld te kommunikeer, maar dit beperk die diepte van ons interaksies. Daarom het sosiale media ironies ons nader aan mekaar gebring, maar ook verder van mekaar af weggestoot. Ons leef in ’n populariteitskultuur wat ons oortuig dat vriendskappe slegs daar is vir pret en om ons eie status te verryk. Hierdie gebrek aan diep konneksies laat ons eensaam voel. Eensaamheid word dikwels verkeerdelik geassossieer met minderwaardigheid, maar die realiteit is dat almal soms eensaam voel. Eensaamheid is die dringende verlange na dieper interaksie.
’n Studie van die Brigham Young University in Utah (gepubliseer deur PLoS medicine) bewys dat die gevoel van eensaamheid gevaarlik is vir ons fisieke welstand. Eensaamheid se effek kan blykbaar so gevaarlik wees soos om glad nie te oefen nie en is ekwiwalent daaraan om 15 sigarette per dag te rook of ’n lewenslange alkoholis te wees.
Hoe kan ons dieper vriendskappe bou om hierdie hunkering na konneksie te versadig? Shasta Nelson, ’n spreker, skrywer en kenner van gesonde vriendskappe en verhoudings, verduidelik dat daar ’n driehoek-formule is vir enige vriendskap.
Die basis van die driehoek bestaan uit positiwiteit. Dit is wat ons na die ander persoon aantrek en wat maak dat ons tyd saam met hulle geniet. Natuurlik is vriende ook daar om ons in moeilike tye te help. Studies sê dat ons vir elke “negatiewe” element wat ons deel, vyf positiewe aspekte “terug moet betaal” om ’n gesonde balans te onderhou.
Die tweede element van die driehoek is volhoubaarheid. Vir ’n vaste verhouding om te ontstaan, is dit belangrik dat daar ’n gereelde interaksie (veral aan die begin van ’n vriendskap) is.
Kwesbaarheid sluit hierdie driehoek af. In ’n vriendskap moet albei persone bereid wees om goeie (en slegte) ervaringe, stories en gebeurtenisse te deel. Ons moet oop wees vir die idee om onsself opreg uit te druk en bloot te stel aan die mense wat ons vertrou.
Om ’n vriendskap werklik te laat blom, moet jy in jou kop vasstel dat dit nie net oor jou gaan nie. Ja, jy moet ook voordeel trek uit interaksie; dit is tog nie net een wat tot die verhouding kan bydra nie, maar dit is gesond vir elkeen se fokus om te lê by die ander persoon se behoeftes.
Jaloesie en vergelyking is vernietigend. Jou vriende moet voel hulle is vry om ook in hul ander verhoudings te belê. Die vriendskap moet opbouend wees - ’n plek van groei en nie kompetisie nie.
Doen moeite met jou vriendskappe. Leer dalk wat jou vriende se “liefdestaal” is. Die klein goedjies kan ’n groot verskil maak. ’n Voorbeeld hiervan kan wees om jou vriend of vriendin te verras met ’n koffie by die skool of om te wys jy gee om deur op te volg op iets waaroor hulle jou vroeër vertel het en opreg te hoor hoe dit met hulle gaan.
Soms is dit ook belangrik om op die regte tyd, plek en manier, eerlike en gesonde kritiek te lewer. Vriende is daar om mekaar te ondersteun. Pasop net dat dit nie voorkom asof jy hulle probeer beheer nie.
Om saam te vat: ’n vriendskap is soos ’n plantjie. Dit is ’n pragtige en nodige deel van lewe. Vandag se mensdom het deesdae veral betekenisvolle verhoudings en volhoubare vriendskappe nodig. Dit is ons elkeen se verantwoordelikheid om geleentheid te grawe vir ’n vriendskap-saadjie en dit gereeld water en sonlig te gee, sodat dit in ’n plantjie kan ontkiem.