Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Marvel Studios
- lesers

As iemand wat die hele eksamen lank uitgesien het om uiteindelik Doctor Strange in the Multiverse of Madness te kyk, was ek nogal teleurgesteld. Daar gaan spoilers wees oor die film sowel as ander films in die MCU (Marvel Cinematic Universe), so gaan kyk dalk eers die film voordat jy hierdie artikel lees.

Ek sal erken dat die film nie eenhonderd persent sleg is nie, want daar is ’n klomp goeie dele in Doctor Strange in the Multiverse of Madness. Die film is ’n visuele meesterstuk en ek sal dit 10 keer weer kyk net vir die een toneel waar Stephen Strange en America Chavez deur die Multiverse tuimel. Die kleure, effekte en beelde is absoluut fantasties. Die film het ook ’n gruwelfliek-gevoel, wat verfrissend is vir ’n Marvel-film. Die musiek pas baie goed en skep nog ’n beter atmosfeer vir die film wat hand-aan-hand gaan met die visuele beelde.

In verband met die akteurs, was Elizabeth Olsen se vertolking van Wanda Maximoff, die Scarlet Witch, definitief die beste deel van die hele film. Sy het dit reggekry om soveel emosie en gevoel in ’n karakter in te bring wat al so baie verander het tussen Avengers: Age of Ultron en Multiverse of Madness. Sy verander in ’n oogwink van ’n gelukkige en liefdevolle karakter na ’n skrikwekkende en wrede antagonis en beeld albei hierdie dele van Wanda se karakter fantasties uit. Alhoewel ek nie saamstem met Wanda se karakterontwikkeling nie, het Elizabeth Olsen definitief die beste vertolking van haar karakter in die film gehad.

Die laaste goeie aspek van die film vir my was Stephen Strange se karakterontwikkeling. Alhoewel die film dit nie veel in diepte verken het nie, was dit nog steeds goed om te sien hoe hierdie aanvanklike selfgesentreerde karakter in iemand verander wat genoeg vir mense kan omgee om hulle lewens meer te waardeer as wat, volgens hom, die beste vir die res van die wêreld is. Ons sien hierdie kontras tussen die eerste toneel, waar hy bereid was om America se lewe op te offer om die monster te keer, teenoor die einde van die film waar hy genoeg vertroue in America het om haar te red in plaas daarvan om haar dood te maak vir haar kragte.

Hier is ongelukkig waar die goeie punte stop.

’n Klomp van my probleme met die film het te doen met die karakters. Eerstens is daar America Chavez wat essensieel net ’n meganisme vir die storielyn is. Haar enigste doel is om as vervoer tussen wêrelde te dien. Dis irriterend dat Marvel ’n hele nuwe karakter moes inbring net vir die storie om te kan werk. Ek glo dat sy ’n belangrike en goeie karakter vir toekomstige Marvel-films kan wees, maar om haar in die film in te bring net sodat sy die storie kan laat voortbeweeg, voel onnodig. Stephen Strange het tog in Spiderman: No Way Home karakters uit ander wêrelde uitgebring sonder America se hulp. Dit beteken dat daar alternatiewe maniere moet wees om deur die Multiverse te reis.

Tweedens het ek ’n probleem met Wanda se karakterontwikkeling. Die manier hoe sy net ewe skielik die film se antagonis geword het, het die vloei van die storielyn baie vinnig van balans af gegooi. Marvel kon haar karakter maklik in ’n ander rigting stuur. Die hoofrede vir haar ontwikkeling is waarskynlik in die strokiesprentboeke gegrond, maar dit beteken nie noodwendig dat Marvel haar karakter presies soos die boeke moes uitbeeld nie. Haar dood aan die einde van die film het ook baie onnodig gevoel, want daar word alreeds vermoed dat sy weer ’n verskyning in toekomstige films sal maak.

My laaste groot probleem met die film is die tydsverloop.

Dit het baie morsig gevoel.

Daar word baie tyd aan sekere tonele bestee en onredelik min vir ander tonele, wat nie altyd sin gemaak het nie. Die hele toneel waar hulle die lede van die Illuminati voorstel, net om hulle vyf minute later dood te maak, het baie onnodig gevoel. Die konsep van die Book of Vishanti wat nooit gebruik word of regtig in diepte verduidelik word nie, het ook soos iets gevoel wat liewer net uit die film gehaal kon word. Die film eindig waar America Chavez in Kamar-Taj bly om ’n towenaar te word, wat ook nie eintlik sin maak nie, want sy het alreeds haar eie kragte wat sy kan gebruik.

Alhoewel ek meestal slegte kritiek oor die film gegee het, sal ek nie omgee om dit weer ’n keer te kyk nie, want dis beslis nie die slegste Marvel-film nie. Ek het beslis meer van die tweede helfte van die film gehou as die eerste deel en ek dink dat, ten spyte van hoe die film uitgekom het, was Sam Raimi ’n fantastiese regisseur vir die film. Ek sal dit geniet as hy by meer Marvel-films betrokke raak in die toekoms.