Tydens die Victoriaanse era (1837-1901) het ’n diverse taal vanuit mense se liefde vir blomme ontwikkel.
Impressioniste en Post-Impressioniste het gedurig blomme en blomrangskikkings tussen die jare 1880 en 1900 geskilder. Vincent Van Gogh het ’n obsessie met sonneblomme gehad. Die twaalf skilderye wat hy van slegs sonneblomme geverf het, kan daarvan getuig. Claude Monet is weer vir sy skilderye van waterlelies alombekend. Tydens hierdie tydperk in Europa het mense eksotiese blomme van rondom die wêreld versamel en in hul tuine uitgestal. Skilders het die geleentheid aangegryp en pragtige kunswerke van byna elke blom onder die son begin produseer.
Die oorhandiging van ’n blom in daardie dae is die ekwivalent van vandag se selfoonboodskappe. Nasies en kulture het hul eie simboliese betekenisse aan hul verkose blomme en blomkleure geheg. Antieke Grieke, Romeine, Egiptenare, Chinese - selfs Shakespeare het toneelstukke geskryf vol boodskappe wat agter blom-en plantsimbole skuil.
Ja- of nee-antwoorde word deur die hand waarmee die blomme oorhandig word, verteenwoordig. Deur die blomme met jou regterhand aan die persoon te gee, is jou antwoord ja en om dit met jou linkerhand te doen, beteken nee. Die manier waarop die blomme gerangskik is, kan ook aandui of die ontvanger die boodskap positief of negatief moet interpreteer.
Februarie se blom is die viooltjie.
Hierdie plantjie groei tussen 15 en 30 sentimeter hoog met vyf kroonblare in verskeie kombinasies van kleure. Hulle groei in matige temperature, maar hou van kouer weer. Deur so ’n blommetjie aan iemand te gee, word die boodskap: “Ek dink aan jou,” of “Jy is in my gedagtes,” aan die ontvanger weergee. In Victoriaanse Engeland het die blommetjie ook romantiese gevoelens gesimboliseer.
Romeinse mitologie vertel dat Cupid op ’n tyd ’n pyl geskiet het en per ongeluk ’n Viooltjie getref het. Van toe af besit die blom ’n towerkrag wat liefde aan enige persoon wat die blom ontvang, gee. In Shakespeare se toneelstuk, A Midsummer Night’s Dream, word die tuinviooltjie gebruik as die bestanddeel vir ’n liefdes-doepa wat chaos onder die karakters saai.
Viooltjies was vir lank die tradisionele blom wat mense aan mekaar vir Valentynsdag gegee het. Sommige stories vertel dat daar buite st. Valentyn se tronksel viooltjies gegroei het, wat hy fyngepers het en as ink in sy talle briewe gebruik het. In Engeland was Viooltjies weens hul hartvormige-kroonblaarrangskikking in Engeland die verkose Valentynsdagblom.
Die variasies in kleure van verskeie blomme dra ook betekenis.
Geel Viooltjies staan vir positiewe energie en vreugde. Pers is vir skoonheid. Rooi staan vir liefde. Wit is vir skoonheid en onskuld, oranje vir optimisme en blou vir lojaliteit en eerlikheid.
Viooltjies word dikwels as versierings op kos en nageregte in restaurante gebruik. Dié klein blommetjie het ook ’n paar gesondheidsvoordele: viooltjies het ’n hoë vitamine A- en C-inhoud en is anti-mikrobies. ’n Tee wat met die kroonblare gemaak kan word, help met die opklaring van sinusverstopppings sowel as hoofpyne.
’n Resep vir tee met viooltjies:
(Neem in ag dat die blomme wat gebruik word om die tee te maak, glad nie aan chemiese plaagdoders blootgestel mag wees nie!)
Indien jy ’n teepot viooltjietee wil voorberei, voeg jy net soveel teelepels blare soos benodig vir die aantal koppies wat jy gaan maak, by.
Gedroogte kroonblare maak ’n sterker tee. Slegs een tot twee teelepels droë blare word benodig. Kroonblare word uitgedroog deur dieselfde metodes as dié wat vir kruie gebruik word.
-
Versamel vars Viooltjies vanuit jou tuin, verkieslik vroeg in die oggend voordat hulle son kry. Die blomme kan eers gedroog word of jy kan hulle dadelik gebruik.
-
Spoel die kroonblare sorgvuldig af en verwyder enige insekte.
-
Voeg twee tot drie teelepels kroonblare by een koppie kokende water.
-
Laat dit vir vyf minute trek, voordat jy die kroonblare uitsif. Dan kan jy jou koppie tee geniet.
-
Onthou om jou koppie met ’n vars tuinviooltjie te versier.