Die smaraggroen steen glinster in my bewende hande. Nooit het ek gedink dat ek, Tracey van der Vaal, so iets sal vashou nie.
Die maanlig wat skadu’s deur die venster van die Nasionale Steenmuseum gooi, laat die sewe karaat-diamant in my handpalm gloei. Ek is so in die oomblik vasgevang, dat ek eers wakkerskrik na my bril van my neus afgly.
Die geluid van my bril wat val, is oorverdowend, maar die geskree van die museum se alarm is veel erger. Die bril moes seker ’n sensor geaktiveer het, want terstond is die ruimte om my verlig en sirenes blaker in die verte.
Teleurstelling vul my hart en my voete voel aan die grond vasgespyker. My enigste plan om van Willem se kloue te ontsnap, het so pas deur die vloer geval. Met hierdie groen steentjie kon ek genoeg geld bymekaarskraap om uit die land te vlug en ’n nuwe lewe begin.
Ek hardloop na die deur, maar die blou en rooi ligte hipnotiseer my tydelik. Ek drafstap ongesien vanuit die museum tot in ’n afgeleë stegie. Nuwe hoop begin binne my borrel.
Skielik gryp ’n sterk hand my arm en ek is in dieselfde posisie as slegs ’n paar oomblikke gelede. Ek draai om en snak na my asem. Voor my staan ’n aantreklike polisieman. Sy vel is bruingebrand van baie dae se buitewees en sy los, donker krulle versteek sy wakker oë.
Dit is Willem van der Vaal - die man op wie ek my hart jare terug verloor het.
Die sterk greep om my pols brand soos die eerste keer toe sy vuis met my wangbeen kennis gemaak het. Dit bly ironies dat dit sy werk is om mense net soos hy agter tralies te sit.
Trane stroom oor my wange. “Moenie! Asseblief, Willem. Moenie aan my raak nie! Jy het al genoeg pyn veroorsaak. Laat my gaan. Dis die minste wat jy na alles kan doen,” snik ek wanhopig.
“Tracey… ek…” Maar sy woorde plak in sy keel vas.
Na wat soos ’n ewigheid voel, verslap hy die greep rondom my pols. Voor hy enigiets verder kan sê, breek ek los en hardloop vir my lewe.
Terwyl die afstand tussen my en Willem vergroot, voel dit asof ek van swaar kettings losbreek.
Ek is uiteindelik vry!