Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Yana Mans
- lesers

Een manier om ’n hele klas angstig te maak, is om vir hulle te sê dat hulle die volgende week ’n mondeling het. Dit is baie kinders se grootste nagmerrie en ’n bron van stres.

Daarom maak dit tog sin dat ons mondelinge met ’n alternatief vervang wat vir jou meer vaardighede sal aanleer as die mondeling wat jou ure neem om te skryf en memoriseer. In plaas daarvan om kinders te dwing om ’n vierminuut-lange toespraak met ’n netjiese plakkaat of powerpoint te lewer, sal hulle meer daarby baat om die vaardighede van debattering aan te leer.

’n Debat is alreeds soortgelyk aan ’n mondeling, maar tog is daar ’n wêreldse verskil tussen die twee.

Debattering vind hoofsaaklik in spanne van drie mense plaas en kan dus vir leerders die nodige vaardighede aanleer om saam met ander mense te werk om toesprake te skryf. Die lede van een span kan saamwerk om idees te deel en argumente te skryf wat hulle die beste in die debat sal bevoordeel. Jy werk dus met mense wat jou kan help verbeter en jy kan selfs nuwe vriende in die proses maak.

My tweede punt is in verband met voorbereiding. Dit neem baie minder tyd om ’n debat te skryf as wat dit neem om vir ’n mondeling voor te berei. Jy hoef nie die week voor die tyd ’n hele toespraak uit te skryf nie en jy hoef beslis nie voor die spieël te staan en oefen nie. Met slegs ’n uur om voor te berei, leer jy om vinnig op jou voete te dink en jou tyd op so ’n wyse te benut dat jy binne tien minute al jou argumente het en jou toespraak kan begin skryf.

Dit gaan ook hand aan hand met talle ander vaardighede wat jy van debat kan aanleer. Dit sluit in jou vermoë om na ander te luister, om vinniger en meer effektief notas te neem, om onderwerpe te analiseer en om te leer hoe om voor ander mense ’n toespraak te lewer.

Die voordeel van hierdie verkorte voorbereiding is dat dit moontlik jou stresvlakke aansienlik kan verminder, aangesien jy nie kan voorberei vir ’n debat voordat jy jou onderwerp ontvang het of weet wie jou spanmaats is nie. Dit gee vir jou meer tyd in die middae om aan ander skooltake te werk en te ontspan.

Behalwe vir die akademiese voordele en lewenslange vaardighede wat jy kan aanleer, is debat ook eenvoudig net meer pret as ’n mondeling.

Ja, ’n debat is steeds ’n vorm van ’n toespraak wat jy voor jou klasmaats moet lewer, maar wie hou nie daarvan om met ander mense te stry nie?