Daar is definitief ’n rede dat die ry by die Koffieblik altyd so lank staan. Die bymekaarbring-drankie is natuurlik vir die meeste Dee-Effers ’n gunstelingsmaak, maar hoe is dit so gewild en wat is die towerdrankie se geheim? Die antwoord lê in die spesiale smaak en die natuurlike chemikalieë: Kafeïene.
Wanneer jy iets proe, tel jou reuksintuig eintlik ’n verbasende groot deel van die geur op. Jou neus identifiseer die 800 verskillende chemekalieë wat koffie sy kenmerkende geur gee. Hierdie samestellings word gevorm net soos chemikalieë vannelien vorm wanneer vleis braai (wat braaivleis sy kenmerkende geur gee).
Nie alle geure word egter as lekker ervaar nie. Mense het ontwikkel om byvoorbeeld nie van bitter smake te hou nie, maar in koffie assosieer ons dit met die energie van kafeïene en word ons gekondisioneer om daarvan te hou, net soos Pavlov se honde gekondisioneer is om te kwyl as iemand ’n klokkie lui om hul kos aan te kondig.
Die hoofverbindings in koffie is asetoon wat na naellakverwyderaar ruik, 2-metielfuran, wat na sjokolade ruik, en laastens isopreen wat ruik na petrol. Saam gee hierdie verbindings vir ons die koffie-geur waarvoor ons so lief is.
’n Belangrike aspek van koffie is dan natuurlik die kafeïene.
Jy het adenosienreseptorewat aan jou sentrale senuweestelsel gekoppel is en in jou brein, longe, hart en milt gevind kan word. Wanneer jy moeg is, skei jou brein adenosien af wat dan met die reseptore wat veroorsaak dat jy moeg voel, bind.
Wanneer jy koffie drink en kafeïene inneem, bind die kafeïene met die reseptore. Dit verhoed dat die adenosien met die reseptore bind. Dus verhoed dit dat jy moeg voel. Daarmee saam veroorsaak kafeïene dat ’n bietjie adrenalien en dopamien afgeskei word.
Dit is die skop wat soveel koffieliefhebbers geniet.
’n Standaardkoppie koffie bevat omtrent 100 mg kafeïene en ’n plat teelepel koffiepoeier van ongeveer 57 mg. Die gesonde dosis in koffie vir ’n tiener is tussen 100 en 200 mg per dag. Die reël om die gesonde dosis te neem, is 2,5 mg per kilogram in liggaamsgewig.
Hoë koffie-iname bied ’n paar korttermyn-nagevolge. ’n Klein bietjie bo die voorgestelde perke veroorsaak soms ’n lae hartklop en hoë bloeddruk. Gereelde koffiedrinkers sal dalk nie hierdie simptome ervaar nie.
Wat van ’n groot hoeveelheid kafeïene bo die voorgestelde perke? Kan ’n mens te veel kafeïene inneem?
Ja. Daar is dodelike kafeïenvlakke. Dit is, wel, dodelik. Giftige kafeïenvlakke kan onder andere borspyn, hoë bloeddruk-vlakke, ongereguleerde hartklop, asook aanvalle veroorsaak en kan selfs tot die dood lei.
Om hierdie kafeïenvlakke te bereik, sal jy 10 g kafeïen per dag moet inneem, indien jy ’n volwassene is. Vir tieners lê hierdie vlak nader aan 5 g en nog laer indien jy dit in ’n kort tydperk inneem.
Gelukkig is dit nie naby aan die normale daaglikse inname nie; dit sou ongeveer vyftig tot eenhonderd koppies koffie per dag wees!
Ek weet dit is aanloklik om baie koffie te drink, maar speel eerder veilig en hou maar by die voorgestelde dosis...
Sien jou by die Koffieblik!