Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Netflix
- lesers

Die griller en riller fanatici het op 1 Julie van hul eksamen-komas gewaak om hulself vir drie ure en 55 minute aan hul TV-skerms te boei vir die nuuste twee episodes van Stranger Things se reeks vier. Hierdie alombekende reeks op Netflix kan bekroon word as die reeks wat die meeste waarskuwings aan epilepsielyers nog ooit moes rig.

Episode agt skop af by die groep karakters in Hawkins. Vecna het finaal sy plan aan hulle ontbloot en die las is op hulle skouers geplaas om die wêreld te probeer red. Hulle tuisdorp is in gevaar en hulle is die enigste mense wat weet wie die regte vyand is. So begin die jag van Vecna, alles met die hulp van petrolbomme, spykers en vullisdromdeksels.

Ag, nes enige tienerspeletjies vanuit die 1980’s.

Die gehoor besoek ook die Nevada-woestyn saam met die Dagga-mobiel en sy insittendes wat op soek is na NINA. Tydens hulle rit help Will, soos die klassieke derde wiel, vir Mike om sy liefdeslewe te ontsyfer, maar die gehoor en sy broer, Jonathan, besef gou dat hy nie alles wat in sy hart is, sê nie.

My gunstelingdele is wel dié met Hopper, Joyce, Murray, Enzo en Yuri in Rusland. Die Russe het sopas besef dat ’n Demogorgon nie so ’n goeie troeteldier maak soos wat hulle gedink het nie.

Tyd om weer terug in die tronk te kruip en soos ridders die “drake” van die Upside down te gaan veg. (Dit als nog letterlik ook wanneer Hopper ’n egte swaard in die hande kry…)

Musiekgewys is daar goeie keuses gelewer met Metallica se Master of the Puppets en Pass the Dutchie deur Musical Youth. Dit help so ’n bietjie om ’n mens te verlig van die herhalende melodie uit Kate Bush se Running up that Hill.

Die laaste epsisode belowe wel dat seisoen vier nie die einde van moeilikheid en monsters in Hawkins is nie.

Wie is die volgende hoofkarakter, of karakters, wat ’n tragiese einde gaan ontmoet? Wie gaan die geveg tussen alternatiewe wêrelde wen? Kan ons verwag dat die volgende seisoen selfs gesoute griller-kykers hul oё sal laat styf toeknyp?

Ek laat julle met jul gedagtes… of is dit Vecna s’n?