Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Emma Snyman
- lesers

Kan jy onthou wanneer laas jy buite jou gemaksone was?

Dit kan enige iets wees van ’n afgerammelde Afrikaanstoespraak tot ’n adrenalienbelaaide valskermsprong… Ons almal het al dié alombekende ongemak beleef - iets wat ons meestal probeer vermy, maar hoekom?

Want dis ons natuurlike instink.

Ongemak word met gevaar geassosieer, maar in werklikheid is dit ver van die waarheid; inteendeel, dit stem meer met groei ooreen.

Daardie groeipyne wat jy as kind ervaar het, hou nie op sodra jy ouer word nie. Wanneer jy iets nuuts probeer, moet jy deurlopend bereid wees om ongemaklik te voel. ’n Mens moet leer om die ongemak te aanvaar en te verwelkom. Dis slegs dán wanneer jy emosioneel en geestelik kan groei.

Daar sal verskeie groot veranderinge jou in die gesig staar, wat jou met ’n sekere vlak van ongemak los. Dit gaan alles oor hoe jy dit dan hanteer. Ek glo dat daar ’n sekere krag is, wat verkry word deur uitdagings aan te pak. Wanneer jy iets bereik wat baie van jou verg, gee dit jou ’n dapperheid wat jy nie kan namaak nie. Ons kan nie al die dinge om ons beheer nie, maar ons kan beheer hoe ons op hulle reageer.

Maar hoe moet jy reageer?

Leer om gemaklik met die ongemak te word.

Tree buite jou gemaksone uit, al is dit hoe moeilik. Elkeen van ons het ’n glinster van dapperheid diep binne-in ons gebêre.

Vind dit. Gebruik dit. Vat uitdagings onverskrokke vas.

Onthou ook dat jy aan die ander kant ’n sterker mens gaan uitkom. Sodra jy dan terugkyk na die berg agter jou, sal jy ten volle bewus raak van jou vermoë om daardie berg te kon klim. Dit sal jou wys dat jy sterker is as die omstandighede en probleme wat jou omvou het.

Sodra jy die “geen pyn, geen wins”-mentaliteit gesond kan handhaaf, sal jy nuwe hoogtes bereik - ’n mentalitiet wat jou gaan toelaat om uit die moeras van gemak te styg. Maar die pad na selfgroei is nie vining nie. Daar is geen ompad nie. Dis hoekom daar ’n kritiese aspek is om by te hou:

Konsekwentheid

Om in die langtermyn van die mentaliteit te baat, moet dit van jou daaglikse lewe deel wees. Elke oomblik wat jy kry om ongemak te ervaar, moet jy aangryp. Wees die eerste om jou hand in die klas op te steek en die vraag met selfvertroue te beantwoord – al is jy nie reg nie, het jy probeer en hopelik iets geleer. Begin ’n nuwe sport. Vra die meisie of ou waaroor jy al lank kwyl uit. Die pad van selfgroei behels konstante korttermyn-ongemak in diens van langtermyn-winste.

Ek vra weer: Wanneer laas was jy ongemaklik?

As jy dit nie kan beantwoord nie, is dit dalk weer tyd om iets nuuts te probeer. Miskien sal jy sien waartoe jy in staat is, as jy jouself, net vir ’n oomblik, toelaat om gemaklik met ongemak te raak.