Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Emma Snyman
- lesers

Heil die leser

Dit is ’n nuwe jaar, maar hierdie uitgawe is tegnies Kwartaal Vier van 2021 s’n. Die Herout bly by ons doelwit van vier uitgawes per jaar.

Beter laat as nooit.

Nou kan jy die nuwe kwartaal met die Herout begin en eindig.

Vir my voel dit asof verlede jaar skaars gebeur het. Dalk omdat 2020 so naatloos met 2021 versmelt het. Op die oomblik voel my herinneringe van verlede jaar effens vervaag. Ek blaai deur my dagboek en lees van dinge wat ek sonder my boekie nooit sou onthou het nie. Ek dink dan, was dít só onlangs? en wonder waar die tyd heen gegaan het.

(Ek gaan myself gou in die rede val om die agtergrond van hierdie redaksiebrief te skets.

Ons het vir so lank as wat ek kan onthou, elke jaar Kersfeeskaartjie-nuusbriefies van ’n gesin in die VSA ontvang. Die kaartjies was vir die mense wat voor ons in die huis gewoon het.

Ek het ’n paar jaar terug uiteindelik besluit om terug te skryf en te sê dat die bedoelde lesers nie meer in die huis woon nie. Die volgende Kerskaartjie wat in die pos verskyn het, is aan my gerig! Só het ek penmaats gemaak.

Ek het in my 2021-Kersbrief aan die Amerikaners ’n tipe belofte aan myself ingesluit. Ek het gevoel dat ek dalk minder sal sukkel om dit na te kom as ek dit pos en weet iemand wat ek nog nooit ontmoet het nie, glo dat ek die tipe persoon is wat beloftes aan haarself nakom.

Die “belofte” wat ek in daardie brief gemaak het, gaan ek hier ook skryf, want ek het dit in elk geval by my: gereed vir my om dit byna woord-vir-woord oor te tik - en hoekom nie? Dit is tien teen een iets wat jy ook moet hoor.)

Ek gaan nie hierdie jaar tyd mors met verdwaas wees oor die spoed waarmee tyd verbygaan nie. Ek sal nie vir die tyd daardie bevrediging gee nie.

As iets goed verbygaan, sal ek bly wees dit het gebeur (en ek sal my bes probeer om dinge buite my beheer te laat gaan).

Die begin van 2022 spreek van ’n ligtheid wat ek graag deur die jaar agterna wil sit.

Ek hoop hierdie hoop bereik jou ook.

Emma

xx