Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Die Hoërskool DF Malan
- lesers

Heil die leser

Alhoewel dit my Herout-hart breek om hierdie jaar vir die redaksie totsiens te sê, voel ek ook ’n entoesiasme om te sien wat voorlê. Die gretigheid en deernis waarmee my mede-redaksielede Die Herout aanpak, is ’n aanduiding dat DF werklik ’n liefde vir die skryfkuns koester.

Die Herout het vir my ’n ruimte gebied waarin ek my belangstellings kon deel, oor ander se belangstellings kon leer, my vaardighede kon verbeter, en iets kon hê waaraan ek konstant met opwinding kon dink:

iets waaraan ek kon vasklou.

Ek hoop regtig dat dit vir ander dieselfde gee.

Die Herout is ’n naam wat ek met trots uiter (en gereeld in gesprekke probeer betrek, want wat die hart van vol is, word heel moontlik eendag in Die Herout gepubliseer). Die Herout is met my semi-geïntegreer. Dalk is ek net deur meneer Gert Visser gebreinspoel, maar my gunsteling-lettertipe (blykbaar het die meeste mense nie ’n gunsteling-lettertipe nie?) is nou byvoorbeeld Arial. Dit redigeer maklik.

Gepraat van redigering – dit het een van my gunstelingtakies geword, maar ek skuld ’n reusedankie aan meneer Visser en die tyd wat hy daaraan afgestaan het om elke artikel na te sien, insette te lewer en leiding te bied.

Hoed af vir die taalgeneraal.

Nou dat my hoed af is, hou ek dit sommer in my hand vir Frans Vergeest (geniale rekenaarkenner, idee-genereerder en mede-matriek) wat eiehandig Die Herout se webtuiste geskep en onderhou het – en ook heeltemal te min krediet kry. Ek het ’n teorie dat ons dalk, sonder sy vaardigheid en toewyding, nie vandag ’n Herout sou hê nie…

Natuurlik is hierdie brief ook aan die joernaliste en fotograwe, die boustene van Die Herout, gerig. Ek voel geëerd om hul kreatiewe visies en vermoëns te kon sien ontvou, en is trots om ’n redaksiespan met elkeen van hulle te kon deel.

Hierdie jaar het so belaglik vinnig verbygevlieg. Ek het aan die begin van die jaar belowe om “nie tyd te mors met verdwaas wees oor die spoed waarmee tyd verbygaan nie” en om “nie vir die tyd daardie bevrediging te gee nie”, maar ek is bevrees Tyd het ná alles die laaste lag.

Een ding wat egter konstant bly, is die soeke na iets om aan vas te klou. Ek klou aan die gees van ontdekking, leser, en die nuuskierigheid van die mens, veral die jong mens. En as jy nuuskierig bly, word jy nooit werklik oud nie.

Vir ’n skoolkoerant is Die Herout kwasi-onafhanklik – ’n platform vir kreatiewe uitdrukking, nuuskierigheid, innovering en verkenning, en die geleentheid om allerlei onderwerpe te dek (en dus die vryheid wat daarmee saamgaan).

En dít is wat ons maak. Vir die lesers deur die leerders.

Emma

xx