Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Emma Olivier
- lesers

Italiaans? Frans? Japannees? Om ’n nuwe taal aan te leer, klink dalk nie soos die moeite werd nie, aangesien die meeste Dee-Effers alreeds tweetalig is.

Realisties gesproke is die lys van nadele nie naastenby so lank soos die lys van voordele nie.

Vir die brein is daar nie ’n groter uitdaging as om ’n nuwe taal aan te leer nie. Wetenskaplikes bevind dat ons slegs die linkerkant van ons brein gebruik as ons ons huistaal praat. Wanneer ons egter ’n tweede of derde taal praat, gebruik ons nie een spesifieke gedeelte van die brein nie.

As jy meer as een taal kan praat, versterk en ontwikkel dit dus die linker- en regterkant van jou brein.

Hierdie nuwe vaardigheid versterk ook jou geheue. Al die nuwe inligting van die taal daag jou geheue verskriklik uit. Dit beoefen jou brein meer as wat dit voorheen beoefen sou word en vermeerder die hoeveelheid inligting wat jy kan onthou.

Dit kan jou ook in die langtermyn help omdat dit deure na meer loopbaangeleenthede kan oopmaak.

Terwyl jy ’n nuwe taal aanleer, verbeter jy ook die tale wat jy reeds kan praat, omdat jy gedurende die proses terugkeer na die basiese reëls van jou huistaal.

Boonop verbeter die aanleer van ’n nuwe taal jou vermoë om vir ’n langer tyd aandag te kan gee. Dit help jou om langer op een spesifieke ding te fokus, omdat jy konsentrasie moet leer behou, terwyl jy konstant besig is om tussen tale te ruil.

Wanneer jy na die feite gaan kyk, is dit beslis die moeite werd om ’n nuwe taal aan te leer.

As jy dit oorweeg om ’n nuwe taal aan te pak, is hier ’n paar wenke vir jou:

Stel jou selfoon na die taal wat jy wil aanleer.

Merk voorwerpe in jou huis met plakpapiertjies wat die voorwerp in die nuwe taal beskryf. Wees kreatief. Jy kan byvoorbeeld byvoeglike naamwoorde of sinonieme byvoeg.

Kry iemand wat dieselfde taal wil leer. Nog beter – kry iemand wat daardie taal reeds ken. Die beste manier om ’n taal te leer praat, is om (wie sou kon raai?) in daardie taal te praat. Moet ook nie bang wees dat jy dom sal klink nie. ’n Mens moet êrens begin. Dit is beter om te probeer en foute te maak, as om skaam te wees en nooit te leer nie.

Kyk, luister, en lees media in die taal. Kyk of jy films of televisieprogramme in die taal wat jy wil aanleer, in die hande kan kry. Luister na liedjies in daardie taal. Lees boeke in daardie taal. Probeer om jouself soveel moontlik aan die verlangde taal bloot te stel.

Probeer om tekste in jou moedertaal na die nuwe een te vertaal. Of vertaal die nuwe taal na jou moedertaal – solank jy gereeld oefeninge doen waar jy in daardie taal moet dink of van een na die ander moet oorskakel.

Doen navorsing oor die taal se geskiedenis en etimologie. Dit sal jou begrip van die taal versterk. As jy byvoorbeeld Engels ken en Frans wil leer, sal dit help om die woorde se Latynse oorsprong uit te vind en so ook die verband tussen Frans en Engels beter sien.

Vra jouself hoekom jy die spesifieke taal wil leer. ’n Passie vir tale in die algemeen is rede genoeg, maar dalk wil jy eendag deur die land van daardie taal reis? Dalk het jy familie wat die taal praat? Gebruik jou rede om jou te motiveer. Dit is ’n uitdaging, maar een waarvan ’n mens definitief die vrugte sal pluk.