Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Cara Louw
- lesers

Stap by enige klas in en vra ’n Dee-Effer om ’n oomblik te noem waarvoor DF omgee. Ek is seker jy sal meer as net een antwoord kry. Met ’n splinternuwe jaar wat voorlê, kan ons gerus terugkyk na die vorige kwartaal vir 2022-inspirasie.

Oktober was ’n maand vol omgee. Dee-Effers het op verskillende maniere hul omgee met ’n program vol aktiwiteite gewys.

16 Oktober

Saterdagoggend het ’n groep Dee-Effers saam met juffrou Sims die geleentheid aangegryp om rommel by Seepunt Promenade op te tel. Die beach cleanup het om nege-uur begin en teen elfuur het hierdie groep ongeveer 16 sakke vol rommel opgetel! Alhoewel die weer van ’n sonnige oggend na ’n tipiese winters-reëndag verander het, het dit nie die groep gekeer om hul bietjie omgee te wys nie.

21 Oktober

Omgee kan ook gewys word deur na jouself te kyk. Tydens besige skooldae vergeet ons om so nou en dan iets lekkers saam met ons vriende te doen. ’n Piekniek op die veld was presies wat vele Dee-Effers nodig gehad het. Met goeie geselskap, ’n sonnige dag en lekker kos, was dit maklik om bietjie vreugde in ’n gewone Donderdag te sit.

Hierdie Donderdag is met ’n joga-sessie ná skool nog lekkerder gemaak. Dee-Effers het heerlik gestrek en gelag tydens die stretchercise.

22 Oktober

Bloedskenkdag is vir weke aaneen beplan deur juffrou Jurgens, die Peer Promoters en die Western Cape Blood Service. Elke leerder wat bloedskenk, red drie lewens. Ongeveer 75 Dee-Effers het bloed geskenk. DF Malan het dus 225 lewens gered! Deur die loop van die dag het die Peer Promoters die leerders ondersteun en deur angstige oomblikke gehelp.

26 en 28 Oktober

Die Brein Agter Die Masker was ’n geleentheid om meer oor geestesgesondheid uit te vind. Me. Nina Barnard het my ’n bietjie meer vertel oor die belangrikheid van Omgee-Oktober, sowel as Die Brein Agter Die Masker.

Sy sê: “Oktobermaand is Wêreld Geestesgesondheidsmaand en daarom het ons Omgee-maand by DF Malan gevier.

Omgee-maand beteken om vir ander, en ook vir jouself, om te gee en meer oplettend te wees op dinge wat jou geestesgesondheid negatief kan beïnvloed. Daarom het ek veral op die invloed van stres en angs op die brein gefokus.

Dit skep ’n bewusmaking van ons eie stres en angs, maar leer ons ook om te verstaan waardeur ander gaan. Daar is ook idees oor hoe om na onsself om te sien en ons kan daardie idees aan ander leer.

Verder is daar ’n lys van instansies ingesluit wat ons buite die skool kan kontak. Ek het ook die leerders aangemoedig om met vrymoedigheid hulle stories hier by Eduhelp te kom deel.”

Omgee-projekte

DF het twee projekte vir Oktober aangepak. World Hunger Day en die DBV-strikkieverkope was ’n sukses en het ’n groot impak op die gemeenskap gemaak.

As elke Dee-Effer poog om elke dag ’n Omgee-Oktober-dag te maak, sal ons saam vorentoe beweeg na ’n wêreld waarvan ons droom! Dalk sal verlede jaar se omgee-aktiwiteite ’n Oktober-tradisie word om na uit te sien.