Die fliek, met régie deur Andrew en Erin Erwin, begin as ’n tipiese romantiese komedie, maar dit is die besonderse storie van die musikant, Jeremy Camp (KJ Apa) en sy vrou, Melissa Lynn Henning-Camp (Britt Robertson) - die ware verhaal wat miljoene lewens verander het.
(Hier is geen erge spoilers nie, so jy hoef nie bekommerd te wees nie.)
Daar is ’n hele paar redes hoekom dit so ’n goeie film is. Eerstens is dit ’n ware verhaal. Dit maak die storie interessant omdat dit op werklike lewe van toepassing is.
Die storielyn is nie gesteur nie. In die filmindustrie maak regisseurs dit soms ’n gewoonte om die oorspronklike stories oor te skryf. Hier is daar egter geen dramatiese verandering van die oorspronklike storie na die film nie. Die enigste opvallende verskil tussen die fliek en die werklike gebeurtenis, is die ontmoeting van Jeremy en Melissa. Die storielyn is ook logies aanmekaar gesit: daar is geen oomblikke van verwarring nie.
As kyker kan jy die gevoelens van die karakters verstaan en ervaar: die lag, vriendelike gesigte van ’n gemeenskap, liefde, verlies en verandering. Dit is ’n film wat wys hoe om deur moeilike tye te gaan.
Die storie wys dit raak beter ná die storm.
Jeremy Camp en Melissa Lynn Henning word goed deur KJ Apa en Britt Robertson vertolk. In die fliek word hul emosies duidelik uitgebeeld en die gehoor kan met die karakters vereenselwig. Dit maak die verhaal nog meer kragtig en verstaanbaar.
Die film wek sterk emosies op. Selfs ék het gehuil - en dít is nogal ’n taak!
My enigste kritiek is die tydperk waarin die film afspeel: ’n mens sou dink dit speel in vandag se tyd af, maar die milieu is veronderstel om in die 1990’s te wees.
I Still Believe is wonderlike film wat die GMA-toekennig vir die inspirasiefilm van die jaar gewen het. Dit is ’n film wat gaan oor die ongelooflike ervaring wat Jeremy Camp en Melissa Lynn Henning-Camp gedeel het. Ek sou dit vir enige iemand wat ’n goeie fliek verlang, aanbeveel.
Gaan kyk dit gerus.