Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Bianca Stander
- lesers

Voel jy verstandelik of emosioneel uitgeput?

Dwaal jou oë konstant na die wysers wat aandui hoe lank jy nog ’n gevangene van daardie periode moet wees?

Sukkel jy om te konsentreer? Voel dit asof jou brein versadig is?

Indien jou antwoord vir hierdie vrae ja is, sal ek aanbeveel dat jy die artikel verder lees.

Jy ervaar moontlik akademiese uitbranding.

Akademiese uitbranding kom voor wanneer leerders skoolwerk op so ’n wyse aanpak dat hul emosionele gesondheid daaronder ly.

Daar is verskillende faktore wat tot akademiese uitbranding kan bydra: die stel van onrealistiese doelwitte, swak tydsbestuur of dalk ouers en onderwysers wat te veel vereis.

Jy voel uitgebrand - moenie ontmoedig wees nie. Daar is maniere om uitbranding te oorkom.

Probeer identifiseer wat dit is wat jou uitbranding veroorsaak. Word jou fokus maklik versteur, stel jy take gereeld uit en doen hulle op nommer nege-en-negentig of kry jy bloot nie genoeg slaap nie? As jy jou akademiese swakpunte kan identifiseer, sal jy aan hulle kan werk.

Een van die grootste slagysters waarin ons maklik kan vastrap, is uitstel, want dit is so maklik om “onaangename” take met onmiddellike bevrediging te vervang.

Dit is tyd om uitstel te groet - makliker gesê as gedaan, maar moontlik:

Begin deur realistiese doelwitte te stel. Hoe eet jy ’n olifant? Happie vir happie.

Maak ’n lys van doelwitte, maar wees spesifiek. Breek die werk in klein stukkies op om dit minder oorweldigend te laat voel. Dit is handig om meer as een lys te hê (byvoorbeeld een hooflys met “hooftake” soos leer vir Afrikaans; doen LO-taak; skryf Heroutartikel en dan ’n lys vir elke taak op die hooflys. Dit sou dan opgebreek word in elke aparte ding wat jy vir daardie hooftaak moet doen, wat jy kan doodtrek soos wat jy die kleiner takie afhandel. Dit is ook ’n goeie motiveerder om die lyste teen jou muur op te sit sodat jy jou vordering gereeld kan sien. Wanneer jy ’n kleiner lys voltooi, kan jy ’n punt op die hooflys doodtrek en die klein lysie afhaal. Maak dit dus jou doel om uiteindelik die hooflys ook van die muur af te haal.)

Bly georganiseerd deur vir jouself ’n studierooster op te stel; ruim ook tyd in vir ontspanning. Moenie jouself druk totdat jy nie meer kan konsentreer nie. Maak seker dat jy na elke uur van studietyd ’n 10-minuut pouse neem. Kry minstens agt ure se slaap in om konsentrasievermoë in die klas en agter die boeke te verbeter en fokus te behou. Moenie die mag van ’n goeie nag se rus onderskat nie.

Organiseer ook jou werksruimte (jou selfoon moet verkieslik van hierdie ruimte wegbly).

Beoefen jou stokperdjies en bly aktief. Dit sal verseker dat jy ’n gebalanseerde leefstyl handhaaf en sal jou gemoedstoestand verbeter.

’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees.

Hou jou redes vir jou akademiese doelwitte in gedagte. Onthou hoekom jy in hierdie doelwitte suksesvol wil wees en as jy motivering jou voel ontgaan, tree vir ’n oomblik terug. Pas jouself op terwyl jy jou leerdors laat ontvlam.