Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Emma Snyman
- lesers

Vladimir Putin, President van Rusland, het die vrede in Europa verpletter toe hy Russiese troepe gestuur het om Oekraïne op die 24ste Februarie 2022 binne te val.

Hierdie oorlog wat op ’n demokrasie van 44 miljoen mense geloods is, is ’n oorsaak van pyn en lyding onder die volk van Oekraïne.

Het ons hier ’n herhaling van wat Stalin in 1945 gedoen het toe hy die verswakte Oosblok onder Russiese beheer gedwing het? Sien ons iets van die Koue Oorlog? Of is daar ander politieke redes vir die Russiese optrede, al gaan Rusland se ekonomie die prys betaal?

Oekraïne is ’n streek wat oor honderde jare baie konflik beleef het. Groot militêre konflikte het dikwels in die land afgespeel sonder dat hy direk daarby betrokke was. Daar was nog altyd ’n onstabiele grenskonflik tussen Rusland en Oekraïne. Toe Zelenski aangewys is as president, het hy ’n hand van vriendskap na NAVO uitgesteek en saam met die Europese Unie aan tafel gesit. Hierdie aksie het die spanning tussen Rusland en Oekraïne die hoogte laat inskiet.

Waarom sou Rusland se lewenslange president hierdie drastiese stap neem? Terwyl ek nou skryf, voel dit amper vir my asof daar skaak gespeel word.

Die eerste skuif is om strategiese toegang tot die Krim-skiereiland wat reeds in 2014 geannekseer is, maar geen direkte verbinding met Rusland het nie, te verkry. Nou kan Rusland toegang tot sy Swartseevloot kry, wat ’n groot strategiese voordeel is.

’n Tweede skuif: 17% van Oekraïne se bevolking is etniese Russe en Putin sê hy voel besorg oor hulle.

’n Derde skuif: om beheer oor die industriële en landboupotensiaal in Oekraïne te verkry. Voor 1990 was Oekraïne een van die welvarendste dele van die USSR.

In die geval van Oekraïne het sy toenadering tot die Europese Unie en NAVO die vierde skuif in die skaakspel moontlik gemaak en is dit waarom Oekraïne volgens Putin ingeval moes word om die regering van Zelenski te vervang.

Met hierdie skuiwe vermoed ons Putin hoop om uiteindelik “skaakmat” te sê. Dit blyk sy ambisie is om die grense van die ou Sowjetunie te herstel.

Uit die 30 lande wat NAVO vorm, grens vyf lande aan Rusland, wat ’n sekuriteitsbedreiging vir Putin is.

Daar moet egter aanvaar word dat Rusland ook nie sonder strategiese hefbome is nie – hulle weermag is geografies aangrensend en hulle is ’n groot olieverskaffer en ’n dominante aardgasverskaffer aan die energiehonger Wes-Europa.

Dit lok die volgende vraag uit: Wat is die gevolge van hierdie oorlog op die res van die wêreld?

Die Russiese inval op Oekraïne is die grootste humanitêre krisis wat Europa in die gesig staar sedert die Tweede Wêreldoorlog. Dit is ’n ongelooflike menslike kwessie van sterftes, vlugtelinge en dakloosheid.

Die oorlog is ook kommerwekkend vir meer as 25 Afrika-lande wat van graan-invoere afhanklik is. Oekraïne verteenwoordig die tweede grootste grondgebied in Europa naas Rusland en het uitstekende landboupotensiaal. Oekraïne voer ongeveer 40% van die wêreld se sonneblomme uit en is ook ’n groot uitvoerder van koring (aan o.a. Suid-Afrika) en mielies. Die globale ekonomie word deur stygende kommoditeite en dienste geraak. Ru-oliepryse styg oor die wêreld heen.

Die bogenoemde kwessies skraap slegs die oppervlak. Putin se oorlogsplanne het uiteindelik die wêreld se beheptheid met die Covid-19-pandemie na die agtergrond geskuif en ’n besinning gebring ten opsigte van die wêreld se ekonomiese en politieke kwessies.

Terwyl die wêreld van een onsekere stadium na ’n volgende beweeg, is dit belangrik om ingelig te bly.