In die tye van die Covid-19-pandemie het baie van ons ervaar wat die woord ontwrig beteken. Kortliks: ’n gebeurtenis wat jou lewe verander - gewoonlik op ’n negatiewe manier.
Hoe help ’n mens diegene wie se lewens ontwrig word? Hoe maak ons dit vir hulle draagliker?
Alhoewel ontwrigting sleg is, moet ’n mens maniere vind om daardeur te werk. Een manier is om na die groter prentjie te kyk en te sien watter ontwrigting ander mense se lewens beïnvloed het. Dit laat jou klaar beter voel en eerder dankie sê vir dit wat jy het.
Ontwrigting kan groot of klein wees. Dalk vergeet jy om jou skeinat-handboeke (na die enigste oopboektoets wat jy ooit in skeinat sal skryf) te bring. Sulke klein ontwrigtinge kan ’n mens se dag lelik versuur.
Ander mense hanteer egter veel ernstiger ontwrigtinge, soos die afsterwe van ’n geliefde, die verlies van ’n inkomste, naastes met ernstige siektes of jou eie gesondheid wat nie op sy beste is nie, egskeiding en soveel meer.
Dit is maklik om vas te kyk in jou eie moeilike omstandighede, maar as jy jou oë ’n bietjie oopmaak, sal jy sien jy is nie alleen nie.
Mense is geneig om cliché’s vir verstroosting te gebruik, soos: “Dinge sal beter raak, jy moet net vasbyt.” Hoewel dit baie waar is, is dit nie altyd wat mense op daardie stadium wil hoor nie.
’n Mens hoor dikwels dat ander mense swaarder kry as jy, maar jy moet nooit iemand laat voel asof dít wat sy lewe ontwrig, nie ook belangrik is nie.
Mense wat die gesprek oorneem en sê: “Dit het met my ook gebeur en ek het só gevoel en só opgetree en ek moet dít en dát ook nog hanteer…” laat ’n mens onbelangrik voel en asof daar nie regtig geluister word na jou eie gevoelens nie.
Partykeer is stilte al wat iemand nodig het. Iemand wat sê: “Ek gaan nie eens vra wat fout is nie, maar kom gee my ’n drukkie, ek kan sien jy kry swaar,” is soms al aksie wat ’n enkele mens nodig het om te bly vasklou.
Mense wil net weet hulle - en die feit dat hulle lewens ontwrig word en dat hulle swaar kry - word raakgesien. Dan is ’n stortvloed trooswoorde en clichés nie nodig nie.
As jy weet van mense wat swaarkry onder hul unieke ontwrigting, wees net daar. Wys hulle jy sien hulle raak en is trots op hulle dat hulle so sterk is. Wees jy die eerste klippie wat ’n rippeleffek op mense se lewens sal hê.