Sakrekenaars - ’n wiskundeboffin se beste maat en een van die beste ontdekkings wat gemaak is om in vandag se tyd mense nog steeds te help. Dit is iets wat selfs die briljantste wiskundiges nodig kry.
Die abakus (’n houtraam met krale wat ’n mens op draad kan rondgly om somme te maak) is volgens die Rekenaareskiedenismuseum een van die eerste hulpmiddels vir sommemaak wat vandag nog gebruik word. Dit was die vroegste “sakrekenaar”.
Die eerste sakrekenaars het met ratte en wieletjies gewerk.
Daar is baie debatte oor wie die eerste meganiese sakrekenaar, wat die Abakus se opvolger was, ontwerp het.
Heelwat bronne sê Wilhelm Schickard, ’n Duitse wiskundige en sterrekundige was die persoon wat die sakrekenaar in 1623 ontwikkel het.
Ander sê weer dit was Blaise Pascal, ’n Franse wiskundige en filosoof wat sy weergawe in 1642 - toe hy net 19 jaar oud was - vir sy pa wat ’n belastinggaarder was, ontwikkel het.
Volgens Encyclopedia Britannica het die briljante uitvinder en kunstenaar, Leonardo da Vinci, egter die sketse vir ’n sakrekenaar al ’n eeu vroeër geteken. Dié sketse was volledig en korrek, wat beteken dat enige moderne ingenieur dit kan bou.
Al gaan die geskiedenis van die sakrekenaar so ver terug, is dit opvallend dat die eerste sakrekenaar wat klein genoeg was om regtig in jou sak te pas, eers in 1967 ontwikkel is.
Hierdie briljante blikbrein is afhanklik van geïntegreerde bane of chips om jou wiskunde vir jou te doen. Daar is transistors binne-in wat maak dat die verskillende funksies van die sakrekenaars geaktiveer word. Hoe meer transistors in die sakrekenaar se sisteem, hoe meer gekompliseerd die somme waarmee hy jou kan help. Dit is verder interessant dat die helper wat met sulke groot getalle speel, eintlik volgens ’n binêre stelsel van ene en nulle werk.
Wanneer jy ’n getal op die sakrekenaar druk, word dit verander na ’n kombinasie van ene en nulle. Die reeks getalle word gebruik om verskillende transistors aan en af te skakel - en so die regte antwoord te kry. Wanneer die som klaar is, word die ene en nulle herskryf tot die getalle waarmee jy elke dag in die wiskundeklas wroeg.
As jy in die volgende wiskundeperiode jou sakrekenaar uit jou tas haal, kan jy dankbaar wees vir die klein masjientjie se lang geskiedenis. As dit nie vir sakrekenaars was nie, sou ons nog op ons vingers tel.