Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Danielle de Villiers
- lesers

Inflasie, ekonomiese klimaat en kryptogeld? Net die ekonomie-meester self sal vir ons meer oor hierdie kwessies kan verduidelik.

Wat is Meneer se vooruitsig vir die toekomstige ekonomiese klimaat?

Laat ek dit so stel: dit kan nie slegter gaan as wat ons dit reeds ervaar nie. Ons gaan ten minste vir so twee tot drie maande hoë inflasie en druk ervaar. Die petrolpryse is ook onder druk.

Wat voorspel Meneer gaan Suid-Afrika se inflasie en rentekoers in 2023 wees?

Die inflasie sal tussen 3% en 6% wees, maar behoort nie hoër as 6% te styg nie. Wat ek wel vir jou kan sê, is dat die rentekoers in 2023 met 25 basispunte sal styg.

Is Meneer ’n voorstander van kryptogeld en dink Meneer dit sal deel van die toekoms raak?

Nee, ek is nie ’n voorstander van kryptogeld nie. Kryptogeld sal nooit die toekoms wees nie, aangesien geen waarde daaraan gekoppel is nie.

Hoe kan die regering Suid-Afrika se ekonomie herstel?

Die belangrikste is om minder te steel! Ons kan vir dae lank oor daardie vraag debatteer. Die beginpunt vir die staat sal wees om na die fiskale dissipline om te sien. Met ander woorde, hulle gaan die staatsuitgawes onder beheer moet kry. Salarisse en rekeninge moenie handuit ruk nie.

Vertel ons meer van die JSE-beleggingskompetisie waaraan sommige ekonomieleerders deelneem.

Op hierdie stadium het ons een groep wat onder die top vyf lê, omdat hulle konstant deur die jaar bly. Hulle behoort teen die einde van die jaar in die top vyf te eindig. Sommige leerders begin baie entoesiasties, maar met tyd vervaag dit.

Hoe sal Meneer toekomstige leerders motiveer om ekonomie as vak te neem?

Leerders wat in die ekonomie belangstel, moet dit neem. Dit sal hulle met hul loopbane en studies help. Dit is nie ’n Mickey Mouse-vak nie. Leerders wat ekonomie neem, werk hard. Hulle het geweldige aanvoeling vir die vak en is terselfdetyd vir drie jaar met my opgeskeep - hierdie vak is nie vir enige iemand nie.