Die Herout
Augustus 2022 / Jaargang 43
Foto: Anika Burger
- lesers

Ongeveer 70 jaar gelede is die Kaap Agulhas lighuis op die Suidpunt van Afrika gebou.

Die geskiedenisryke baken merk die plek waar die Atlantiese en Indiese Oseaan by die klein dorpie, L’Agulhas, bymekaar kom. Dit is die derde lighuis wat in Suid-Afrika gebou is en is ná Groenpunt die tweede oudste werkende lighuis in Suid-Afrika.

Die idee vir die lighuis is deur ’n Britse soldaat, Kolonel Charles Collier Michell, in Maart, 1837, voorgestel, maar ongelukkig het die staat nie genoeg geld daarvoor gehad nie en moes hulle ’n fondsinsameling hou.

Die gebou se pragtige ligging is te danke aan Michiel van Breda, omdat hy die stuk land waarop die lighuis vandag staan, aan die staat geskenk het. Hy was ook die stigter van L’Agulhas se buurdorp, Bredasdorp.

Nie net inwoners nie, maar talle ander mense oor die wêreld heen, het geld geskenk om die bou van hierdie baken moontlik te maak. Die bouprojek het in April van daardie selfde jaar begin, maar is eers in Desember 1848 voltooi. Op 1 Maart 1849 het die toring se lig vir die eerste keer geskyn. Later is die oorspronklike liggie met ’n olie-aangedrewe lamp vervang.

Die toring is ongeveer 27 meter hoog en is in die tipiese rooi en wit bande geverf om skepe se aandag te trek. Die gebou wat as die toring se basis dien, is deur die lighuiswagter bewoon. Vandag is dit ’n restaurant en museum.

In 1968 is die lighuis uit diens geplaas en die lig wat vir so lank gebrand het, is na ’n veilige area vir bewaring verskuif. ’n Nuwe elektriese lig is geïnstalleer. Die gebou is as ’n nasionale monument verklaar en het later ’n prys vir die historiese ingenieurswerk gewen.

Gelukkig is die gebou nou gerestoureer sodat almal die geskiedenisryke toring kan bewonder.